Update
OUDTSHOORN NUUS - Chris Jooste (22), 'n boorling van Prins Albert, het tesame met die vrouewenner van die Tswane Classic 98 km-fietsren, Yzette Oelofse, sekerlik een van sy grootste oorwinnings in sy fietsryloopbaan behaal.
Jooste het Sondag 5 November in 'n tyd van 2:12:57, een minuut voor ProTouch se Jaydé Julius and Dimension Data se Kent Main, wat die Bestmed Tour of Good Hope vroeër vanjaar gewen het, oor die wenstreep gejaag.
Ongeveer 4 000 fietsryers het aan die ren deelgeneem.
"By die wegspringpunt het ek nie regtig geweet wat om te verwag nie.
"My bene het goed gevoel en ek het besluit om my beste te doen en vir 'n wen te ry."
Jooste wat na sy Hoërskool Zwartberg-skoolloopbaan na Kliprivier, Gauteng verhuis het, is tans die Gauteng o.23 pad- en tydtoetskampioen.
Eden se fietsrypresident, Corné Bence, het gesê hy is verheug oor Jooste se prestasie.
"Chris het sedert sy laerskoolloopbaan vir SWD fietsgery en ek kon van jongs af talent by hom bespeur."
"Dit is ongelooflik om Chris se uithou- en deursettingsvermoë te sien.
"Hy was in twee groot fietsryongelukke, maar het nooit handdoek ingegooi nie."
Bence het Jooste as 'n voorbeeld uitgesonder vir ander fietsryers om te volg.
Lees 'n vorige nuusflits: Droomwen vir boorling van Prins Albert
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'