Gallery Update
OUDTSHOORN SPORTNUUS - Daar is tans geen keer aan die onbetwiste droommylkoning, Ryan Mphahlele, wat soos in 2019, die afgelope naweek twee droommyle by die Klein Karoo-straatmyreeks behaal het nie. 'n Droommyl is wanneer 'n atleet die mylafstand van ongeveer 1,6 km onder vier minute voltooi.
In die eerste been van die Eden-straatmylreeks wat verlede Vrydag in Baron van Rheedestraat weggespring het, was dit reeds duidelik dat Mphahlele se teenstanders iets spesiaal in die mans ope moet vermag om hom te klop.
Sy naaste teenstander en vorige wenner, Jerry Matsau, het Mphahlele tot die einde gejaag, maar tevergeefs.
Die vinnige pas van dié wedloop het egter gesorg dat die eerste drie plekke, Ryan Mphahlele (3:52,94), Jerry Motsau (3:54.28) en Bruce-lynn Damons (3:59.90) almal onder vier minute gehardloop is.
FOTOGALERY: Droommyle by Eden straatmyl
In die dames ope het Carina Viljoen die vorige rekord verbeter na 'n tyd van vier minute en 36 sekondes.
Beide Viljoen en Mphahlele was weereens oorwinnaars in hul onderskeie afdelings by Saterdag se Swartberg-baanatletiekbyeenkoms by die De Jager-sportkompleks met Mphahlele (3:57;72), wat sy tweede droommyl in twee dae behaal het.
Carina Viljoen (4:36.33) wen in 'n nuwe byeenkomsrekord in Baron van Rheedestraat.
Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), is R60 000 vanjaar op die spel vir topatlete wat presteer.
Die Grand Prix-deel van die reeks behels dat die mans- en damesatlete wat die meeste punte oor die drie bene versamel het, met die Grand Prix-titel wegstap.
Teen druktyd was die uitslae van die ATKV-straatmyl wat Maandag in Hartenbos plaasgevind het, nog nie bekend nie.
Die drie droommylatlete is van links: Jerry Matsau, Ryan Mphahlele en Bruce-Lynn Damons.
Vorige artikel: Droommyle galore by Klein Karoo-straatmyl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'