OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die eerste been van die Eden-straatmylreeks in Oudtshoorn het gister vir groot opwinding in Baron van Rheedestraat gesorg met drie droommyle wat behaal is.
'n Droommyl is wanneer 'n atleet die mylafstand van 1,6km onder vier minute voltooi.
In die damesope het Carina Viljoen die vorige rekord verbeter na 'n tyd van 4:36,33, terwyl die eerste drie mans ope atlete, Ryan Mphahlele (3:52,94), Jerry Motsau (3:54.28) en Bruce-lynn Damons (3:59.90), almal die magiese sub-4minute kon breek.
Die 2021-reeks bestaan weer soos in die verlede uit drie bene; die Klein Karoo-straatmyle in Oudtshoorn (gister), die Swartberg-baanatletiek en -myle in Oudtshoorn op 18 Desember (môre) by die De Jager-sportkompleks, en die ATKV-straatmyle in Hartenbos.
Volgens Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), is R60 000 vanjaar op die spel vir topatlete wat presteer.
Die Grand Prix-deel van die reeks behels dat die mans- en damesatlete wat die meeste punte oor die drie bene versamel het, met die Grand Prix-titel wegstap.
Carina Viljoen wen in ‘n nuwe byeenkomsrekord van 4:36.33.
Die 3 droommylatlete van links:Jerry Matsau, Ryan Mphahlele en Bruce-Lynn Damons .
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'