OUDTSHOORN NUUS - Leerders van De Villiers Primêr het die afgelope naweek aan hul heel eerste toutrekgeleentheid deelgeneem.
Die jaarlikse Suid-Afrikaanse Toutrek-federasie (SATF) se senior ligakampioenskappe, senior klubkampioenskappe, asook die o. 10-laerskoolfees het Saterdag 24 Mei by die Vaardigheidskool se sportterrein plaasgevind.
Volgens Damon Gysman, 'n onderwyser by die skool, is daar vanjaar besluit om vir die eerste keer 'n toutrekspan saam te stel. "Die kinders het geen vorige ondervinding nie, so hierdie was 'n waardevolle leerskool vir hulle. Ons was verskriklik trots dat hulle goeie kompetisie was vir die skole wat al gesoute toutrekkers is," sê hy.
Die span se deelname is verder moontlik gemaak deur die skenking van hul eerste tou, wat verlede week deur Eden-toutrek en SA toutrek aan die skool oorhandig is.
De Villiers Primêr het ook 'n vrouespan, bestaande uit onderwyseresse, ingeskryf. Hierdie span het groot gees en samehorigheid getoon, en is beloon met die geesbeker vir hul ywerige deelname.
Volgens Gysman is die personeel baie entoesiasties oor die nuwe sportkode.
Sommige onderwysers gaan selfs opleiding ontvang om as afrigters op te tree, sodat die sport verder by die skool gevestig kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’