SUID-KAAP SPORT NUUS - Die wêreldwye opskorting of uitstel van groot internasionale sportbyeenkomste het ook na die Suid-Kaap oorgespoel en feitlik alle sportsoorte 'n kishou gegee.
Met dié dat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand Covid-19 as 'n nasionale ramp verklaar het, het sportorganiseerders en skole in George en die res van die Suid-Kaap vinnig gehoor gegee aan die president se oproep en alle sportbyeenkomste gekanselleer of tot 'n latere datum uitgestel.
Krieket
Krieket Suid-Afrika (KSA) het reeds aangekondig dat alle vorme van krieket vir die volgende 60 dae gestaak word. Dit geld vir semi-professionele en provinsiale krieket asook junior en amateurkrieket.
Met die SWD-krieketseisoen feitlik iets van die verlede word dié sport dus nie so erg gekniehalter nie.
Sokker
Alle sokkerbedrywighede in die Suid-Kaap is gestaak en alle Geolfa-klubwedstryde in die Safa Eden-streek is vir minstens twee weke opgeskort. Die organiseerders sal dan weer 'n besluit neem op grond van 'n oorhoofse besluit deur Safa. Ook die gewilde Paasfees-toernooi, waaraan tientalle spanne jaarliks deelneem, is van die baan.
Tweekamp
Die SA tweekamp-kampioenskappe, wat Dinsdag op Oudtshoorn sou begin, is ook afgestel weens die bedreiging van die koronavirus. Dié byeenkoms is die grootste van sy soort in die land en sou honderde atlete uit elke uithoek van die land getrek het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'