TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Die eerste Bell Classic-toernooi, wat deur die Outeniqua-rolbalklub aangebied is, het spel van die hoogste gehalte opgelewer met die kampioenskap wat tot die laaste balle in die weegskaal was.
Veral die laaste dag het die uitslae tussen verskeie spanne wipplank gery wat die opwinding en spanning laat oplaai het.
Die spanne moes ook verskeie weersomstandighede verduur wat die beste tegnieke uit elke speler gehaal het. Donderdag was dit mooiweer, maar Vrydag het die stormwind die spelers kwaai laat kopkrap en Saterdag moes spel vir 'n tydperk gestaak word as gevolg van die nat toestande. Toe spel later weer hervat is, was dit ideale rolbalweer en kon die spanne hul heel beste lewer.
Dougie Bashford se span van KZN is uiteindelik as kampioene gekroon nadat hulle 'n geweldige taai stryd moes voer teen Rudi Venter se span van Oudtshoorn-rolbalklub. In hierdie wedstryd was die uitslag tot die einde in die weegskaal.
Thinus Oelfse se span van Outeniqua-rolbalklub, het die eerste twee dae die voorste plek ingeneem, maar die derde dag gegly en uiteindelik die negende plek ingeneem. Die kompetisie was so taai dat 'n span wat verloor het, 'n hele paar posisies op die telbord gesak het.
Piet Robbertse van Eden-rolbal se span was die veterane wat met hul vyfde plek die beste gevaar het.
Die Protea-speler Colleen Piketh, wie se span uit Outeniqua-rolbalklub-spelers opgemaak was, het verskeie mansspanne op hul neuse laat kyk en die agste plek ingeneem. Hulle het al drie hul wedstryde in die eerste sessie gewen en was deurgaans baie kompeterend.
Saterdagaand tydens die prysuitdeling is al die spelers op 'n steakete getrakteer en lewende vermaak het vir die atmosfeer gesorg. Die gemoedelike gees onder die spelers het die toernooi op 'n hoogtepunt afgesluit en die meeste spanne sien nou reeds daarna uit om aanstaande jaar weer deel van die Bell Classic te wees.
Greg Young, president van Outeniqua-rolbalklub, is in sy noppies met die suksesvolle toernooi en het almal wat 'n bydrae gelewer het, hartlik bedank.
"Die sukses van hierdie toernooi bied 'n goeie fondasie vir aanstaande jaar ons verwag heelwat meer spanne van oor die hele land. Toernooie soos hierdie bied 'n goeie hupstoot vir rolbal in Eden en motiveer hopelik die jonger geslag om tot die spel toe te tree en vorentoe ook hul stempel op die grasbaan af te druk," het hy gesê.
Oudtshoorn-rolbalklub se span van Rudi Venter, wat die naaswenners was en die Eden-span wat die beste gevaar het. Die spanlede is van links: Paolo Vitali, Buks Fernhout, Gellie Geldenhuys en Rudi Venter. Foto's: Jannie Meyer
Die voorste vrouespan wat die beste gevaar het, het onder aanvoering van die Protea-speler Colleen Piketh gespeel. Van links is Jemima Nortjé, Nan Roos, Piketh en Gillian Young. Behalwe Piketh is almal lede van Outeniqua-rolbalklub.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'