OUDTSHOORN NUUS - B-girl-Saalie (25) van Oudtshoorn en B-boy-Juandrè (28) van George was die twee topbriekdansers by die Redbull BC One-dansuitdunne wat Saterdag by die Oudtshoorn-gemeenskapsaal plaasgevind het.
Die Red Bull BC One word as die grootste danstoernooi van sy soort wêreldwyd beskou en vanjaar was die 15de keer dat dit aangebied is.
Die verrigtinge het begin met een van Oudtshoorn se bekende briekdansers, Schapiro Michaels, wat aan die gehoor vertel het hoe die sportsoort se kultuur in Oudtshoorn ontstaan het.
"Ons was destyds nog laaities toe die hip-hop-craze ons beet gepak het. Vandag is ek bly om die sien dat ons old school manne se pogings by die jeug vrugte afwerp het en dat hulle die sportsoort steeds ywerig beoefen. Ek onthou ons het in die 1990's mekaar sommer in die middel van die straat gebattle en gekopspin - dis hoekom ek vandag 'n bleskop het," het Michaels geskerts.
Saalie het na haar oorwinning in die damesafdeling gesê dat dit 'n goeie ervaring vir haar was om mee te ding in dié hoogaangeskrewe danstoernooi soos die Red Bull BC One.
"Al my ure se oefeninge was die moeite werd en my fokus sal nou wees om my dorp trots te maak by die nasionale eindstryd in Kaapstad op 1 Mei," het Saalie gesê.
B-boy- Juandré voer 'n ingewikkelde danspassie uit.
Schapiro Michaels (regs in rooi) met van die groot hip-hop geeste in Oudsthoorn wat die kultuur destyds geskep het. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'