Onder die 170 gaste was een van die klub se erelede, kol. Riana Nel, bevelvoerder van die SAPD-akademie, asook een van die stigters-lede van die klub, mnr. Abe Kaplan. Hy is sedert 1957 lid van die klub.
Die klubhuis het sedert verlede jaar 'n totale gedaanteverwisseling ondergaan danksy die ywer en bydrae van veral twee komiteelede, Russouw en Magda Ferreira, en ook mildelike bydraes van klublede, besighede en individue.
Die klubkaptein, Louis Fourie, het almal namens die klub bedank en die egpaar lof toegeswaai.
'n Spesiale woord van dank het gegaan aan die TFASA (Test Flying Academy of South Africa) wat 'n reuse bydrae gelewer tot die opgradering van die kleedkamers.
'n Spesiale gedenkplaat sal hiervoor in die kleedkamers aangebring word, het Fourie gesê.
Magda Ferreira het 'n ope uitnodiging aan Oudtshoorniete gerig om van die klub se fasiliteite gebruik te maak vir geleenthede soos troues, verjaardae, vergaderings of enige ander funksie teen die billikste pryse.
"Die klub beskik oor al die geriewe en is ook veilig vir kinders wat funksies bywoon."
Volgens Ferreira bied die klub spesiale tariewe aan vir sosiale lede. Afrigting word deur Louis Fourie (jr.) gedoen en skole is welkom om daarvan gebruik te maak.
"Gholfontwikkeling is hoog op die klub se prioriteitslys," het Ferreira gesê.
Volgens haar is die baan danksy Rudy Mortlock en sy baanpersoneel tans in 'n uitstekende toestand.
"Ons moet egter nie die Oudtshoorn-baan vergelyk met die Goose Valleys en Pinnacle Points van die Suid-Kaap nie. Dis 'n Karoo-baan met verouderde implemente."
Volgens Louis Fourie (jr.) was die baan "in tien jaar" nie so mooi soos nou nie.
"Die gholfspelers van agter die berg kan gerus kom kyk," het hy gesê.
Volgens die klubkaptein het die komitee besluit om vanjaar drie spanne, een in die B-afdeling en twee in die C-afdeling, vir die ligakompetisie in te skryf om meer spelers die geleentheid te gee om ligagholf te speel.
Die drie kapteins is Louis Fourie (jr.), Winston Coerecius en Riaan Nortje.

By die afskopfunksie van die Oudtshoorn-gholfklub is van links: Louis Fourie (klubkaptein), Abe Kaplan (stigterslid), dr .Russouw Ferreira, me. Magda Ferreira, kol Riana Nel, (bevelvoerder SAPD Akademie), Chris Smith (Test Flying Academy of South Africa) en Godfrey Malgas (president van die gholfklub). Foto: Garnett Wicomb