OUDTSHOORN NUUS - Leeds United-sokkerspan het Maandag vir 'n yslike verrassing gesorg toe hulle die sewemalige kampioen Moonlight FC in die eindstryd van die Oudtshoorn Local Football Association (OLFA) Paasnaweek-sokkertoernooi met drie doele teenoor twee in die Dysselsdorp-sportstadion verslaan het.
Dit moet ook genoem word dat die onoorwonne Moonlight in vanjaar se toernooi reeds in die groepfasewedstryde vir Leeds met 3 - 2 geklop het, so daar was 'n redelike verwagting dat dit moontlik weer eenrigtingverkeer sou wees.
Dié gewilde toernooi, was oor drie dae in Dysselsdorp en Oudtshoorn gespeel en in hordes ondersteun. Die toernooi het na 'n afwesigheid van twee jaar weens Covid-19, weer verlede naweek sy terugkeer maak.
Volgens een van die organiseerders, Gabriel Majolla, is die sokkertoernooi aan die onlangse ontslape sportgees, Levesto le Roux, opgedra wat vir meer as 'n dekade lank by die reëlings van die toernooi betrokke was.
Moonlight het, soos verwag, met die afskop van die eerste helfte gedomineer en reeds binne die eerste vyf minute twee venynige, dog onsuksesvolle pogings op die doelhok van Leeds afgevuur.
Die manne in geel se puik ondernemingsgees het so vroeg as die 10de minuut dividende gelewer toe Cameron Samson sy solo-dribbelpoging in die doelhok bêre.
Leeds het egter uit hul sluimer ontwaak en 'n paar minute later teruggeslaan met 'n doel van hul eie om die telling 1 - 1 te maak.
Binne 60 sekondes het Moonlight gewys waarom hulle so 'n gedugte span is toe hulle Leeds se verdedigingslinie met akkurate aangeewerk oopgevlek het om hul tweede doel aan te teken - dit alles terwyl Leeds se ondersteuners nog besig was om te jubel oor hul gelykmaker bietjie minder as 'n minuut gelede.
Twee minute voor die eerste helfte kon Moonlight die wedstryd buite Leeds se bereik geplaas het ás dit nie was vir die flinke reaksie van hul opponente se doelwagter nie. Die eerste helfte eindig 2 - 1 in Moonlight se guns.
Dit was in die tweede helfte duidelik dat Leeds se fokus aansienlik verhoog het en balle wat Moonlight in die eerste helfte na willekeur langs die flanke gespeel het, was nou met effektiewe man-op-man-verdediging in die kiem gesmoor.
Moonlight het van die oog af geen Plan-B gehad vanwaar balle na hul giftige voorspelers gevoer kon word nie, met die gevolg dat het hul aanvalsopsies stelselmatig begin opdroog.
In hierdie periode het Leeds sy ritme gevind en die bal vir lang periodes met doeltreffende balverspreiding beheer.
Hierdie suksesvolle aanpassing in benadering het Leeds se spelers meer selfvertroue gegee om aanval na aanval te loods, terwyl Moonlight die druk noodgedwonge moes absorbeer.
Na 20 minute van oorheersing het Leeds 'n vryskop sowat 20 meter van hul opponent se doelarea af gewen.
Die krullende bal het in die doelhoek beland terwyl Moonlight verslae na mekaar gekyk het. Telling 2 - 2.
Absolute pandemonium het in die volgepakte stadion losgebars met Leeds se ondersteuners en spelers wat nou vas geglo het dat hulle teen alle verwagtinge tog kan wen.
Waar daar vroeg in die tweede helfte 'n huppel van optimisme in Leeds se stap was, was daar nou 'n boksprong tot dieselfde effek met elke bal wat met gretige ywer opgevolg en verdedig is.
Tien minute voor die eindstryd het Leeds die finale spyker in Moonlight se doodskis geslaan toe hulle met briljante balbeheer Moonlight se verdedigers dwarsdeur die middelveld geflous het vir die wendoel.
Die spreekwoordelike vreugdevure was nou aangesteek en Leeds se ondersteuners het uit volle bors oorwinningsliedjies gesing in afwagting vir 'n welverdiende wen wat vir jare onthou sal word.
Toe die eindfluitjie blaas het Leeds se ondersteuners op die veld gestorm en fanaties agter hul spelers aangehardloop, wat uit pure ekstase, die aangrensende bultjie by die stadion uitgedraf het om hul oorwinning te vier.Wilfred Koopman van Leeds (maroen) was in die tweede helfte 'n doring in die vlees van Moonlight se verdedigers.
Nee ou maat, dis my bal hierdie. Foto's: Wyndham Ewerts
Vorige Artikel: Leeds UTD klop Moonlight Olfa Toernooi
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'