SOKKERNUUS - Athletico-sokkerklub het Maandag 1 Mei op Werkersdag vir Oudtshoorn Birds in die Dream FC-sokkertoernooi se eindstryd met een doel teenoor nul geklop.
Hierdie toernooi, wat op Bongolethu-sportterrein beslis is, het oor drie dae gestrek met verskeie spanne in die dorp wat meegeding het.
Athletico het uit die staanspoor gewys waarom hulle so 'n gedugte span is toe hul inspirerende kaptein, Lorenzo Claassen, sy span se rekening geopen het met 'n briljante doel.
Die manne in wit het daarna alle lewe stelselmatig uit hul teenstanders gewurg deur balbesit na willekeur af te rokkel.
Enige vinnige teenaanvalle deur Birds is ook vinnig in die kiem gesmoor deur rotsvaste verdediging en 'n doelwagter wat se taktiese aanvoeling vir die spel spesiale vermelding werd is.
Nes dit wou lyk of Birds die laaste linie van verdediging suksesvol sou breek, was dit Athletico se doelwagter wat klokslag die bal na kalmer waters geskop of met sy vuiste weggestamp het.
In die tweede helfte kon Athletico maklik sy voorsprong na drie of selfs vier doele vergroot het as dit nie vir oorgretigheid was nie.
Desnieteenstaande het Birds nooit gelyk asof hulle enigsins op die telbord sou kom nie en alhoewel Atheletico uiteindelik slegs met een doel sou wen, het die verskil in werklikheid baie meer gevoel vir die manier waarop die wit truie genadeloos aanval na aanval geloods het.
Nog 'n aspek wat Birds seergemaak het was die groot aantal hoekskoppe wat hulle afgestaan het. Dit het beteken dat Athletico se giftige spelers op die flanke, die bal telkemale met akkuraatheid in die strafskop-area geskop het wat gereeld angstigheid vir Birds se verdedigers tot gevolg gehad het.
Claassen is na die wedstryd ook welverdiend as speler van die wedstryd aangewys vir sy algehele vernuftige spel asook die feit dat hy die enigste doel van dié wedstryd aangeteken het. Claassen het in sy oorwinningstoespraak sy spanmaats geloof vir hul deursettingsvermoë en gesê dat sy span die knoop deurgehak het toe dit die meeste saakgemaak het.
Die einste Athletico het in die groep-wedstryde teen Birds verloor.
Die organiseerder van die toernooi, Brendan Kamfer, het sy tevredenheid uitgespreek teenoor die verloop van die toernooi en die toeskouers bedank vir hul ondersteuning sowel as die spanne vir die goeie sportmangees wat deurentyd geheers het.
Vir hul deelname in die eindstryd het beide Athletico en Birds met pragtige trofeë en kontantpryse weggestap.
Athletico op die aanval vir die hoeveelste keer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’