OUDTSHOORN KRIEKETNUUS - 'n Groot eer het Haroline Rhodes (35), vrouekrieketspeler van die plaaslike Union Stars-krieketklub en ook kaptein van die SWD-vrouekrieketspan, te beurt geval toe sy tydens verlede Vrydagaand se jaarlikse Krieket SA toekenningsaand as die Suid-Afrikaanse magte se krieketspeler van die jaar aangewys is.
As gevolg van die Covid-19-inperkingsmaatreëls is dié seremonie regstreeks op digitale platform gebeeldsend.
Rhodes, 'n personeellid verbonde aan die Oudtshoorn-infanterieskool, het uitgeblink vir die SA Nasionale Weermag-krieketspan tydens die SA Magte-kriekettoernooi wat in Februarie in Kaapstad gehou is in 'n driehoekige toernooi wat ook die SA polisiediens en die SA korrektiewe dienste ingesluit het.
Na afloop van dié toernooi is sy in die SA Magte-krieketspan opgeneem wat teen die WP-vrouespan in Kaapstad gespeel het.
Rhodes het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hierdie toekenning sonder twyfel die grootste van haar krieketloopbaan is.
"Dit het nog nie by my ingesink nie, maar ek is baie trots dat ek hierdie toekenning nou op die einde van my krieketloopbaan ingepalm het. Erkenning moet ook aan my ouers en vriende gaan," het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'