OUDTSHOORN NUUS - Die Dysselsdorp-krieketklub het na byna twee jaar, wat Cedlan Solomons manalleen die krieketsake van Dysselsdorp behartig het, weer 'n nuwe bestuur gekies.
Hy het ook persoonlik 'n groot finansiële bydrae gemaak om die klub te laat funksioneer.
Solomons en 'n paar aktiewe lede het besluit om oudspelers van die klub te nader om op die bestuur te dien aangesien Solomons van mening is dat Dysselsdorp-krieketklub 'n trotse geskiedenis opgebou het.
Die nuwe bestuur beoog uitreik-aksies na die plaaslike laer- en hoërskool om nuwe talent te identifiseer.
Dysselsdorp-krieketklub het in 1982, onder leiding van wyle Jan Philander en 'n paar krieket-geesdriftiges, tot stand gekom.
Ander rolspelers was wyle Edwin, Jan en Conrad Stalmeester, asook wyle Koos Esau, Colin Jumaats, Jim Baartman, Edmund September en die Le Roux-broers, Levesto en Ralph.
Pat Witbooi (Riversdal), Hylton Jumaats (Paarl), Joha Jonas en Kerneels du Preez (Jeffreysbaai) is almal stigterslede wat intussen verhuis het. Emile le Roux, Solomon Konstabel, Andries Jacobs en Leon Gelant woon steeds in Dysselsdorp.
Oorwinnings en spelers
In die kort bestaan van die klub het hulle 'n paar roemryke oorwinnings teen byna al die gedugte klubs in die SWD behaal.
In die 80's en 90's is Dysselsdorp as SWD-kampioene gekroon.
Die klub het ook as gasheer vir 'n krieketwedstryd tussen SWD en Boland opgetree.
Heelwat senior SWD-krieketspelers is afkomstig van Dysselsdorp: Edwin Stalmeester, Conrad Stalmeester, Edmund September en Pat Witbooi.
Witbooi, wat tans die hoof is by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr in Riversdal, het saam met die huidige Protea-krieketafrigter, Shukri Conrad, in die SA Universiteite krieketspan gespeel.
Emile le Roux en Hylton Jumaats het beide senior SWD-kleure behaal. Andries Jacobs, nuutverkose ondervoorsitter doen 'n beroep op alle oudspelers, asook voornemende spelers om by die klub aan te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’