OUDTSHOORN KRIEKTNUUS -Die Lions-vlakkiekrieketspan het verlede Sondag in 'Die Leeukuil' (veld agter die Toekomsrus-kliniek) gewys waarom hy as een van die groot aanspraakmakers in vanjaar se OPL-liga beskou moet word toe hy die Samewerking-span in 'n kwarteindwedstryd met 52 lopies afgeransel het.
Die Lions het die loot gewen, eerste gekolf en 'n uitdagende 124 lopies op die telbord geplaas.
Levanio Nathan (24) en Cameron Rhoode (18) het tafel gedek vir Tyrese Karelse wat 'n briljante 60 lopies gemoker het om sy span van broodnodige momentum te voorsien. Karelse, wat ook 'n SWD-speler en 'n voormalige lid van die o.19 Protea-span is, se beurt het vyf viere en drie sesse ingesluit.
Samewerking se lopiejaagtog het redelik goed begin met hul aanvangskolwer, Dylan Nuys, wat 32 lopies kon vermag. Na sy vertrek was dit slegs Adrian Booysen (15) wat enige noemenswaardige bydrae kon maak en is dié span uiteindelik in die 19de boulbeurt vir 72 almal uitgehaal.
Die onoorwonne Neppon Warriors het in sy wedstryd teen die Champs in sy toegelate 20 boulbeurte 141 vir die verlies van nege paaltjies behaal. Kurtley Coerecius (60) en Willem Goliath (40) was die span se beste kolwers.
Die Champs daarenteen het van meet af aan uit sy diepte gelyk en vir 'n 66 lopies uitgeknikker. Zandrè Wyngaard was die Warriors se beste bouler met vier paaltjies vir 17 lopies van sy drie boulbeurte.
In die ander kwarteindstryde het die Old Crocs die Dreamteam ore aangesit, terwyl die Firestones sy ou vyand, Die Legends, met die kous oor die kop huis toe gestuur het.
Sondag se halfeindstryde is as volg:
Firestone teen Neppon Warriors om 14:00 Sondag in 'Die Leeukuil'. (Voor Pro-10-wedstryd tussen die Super Rebels en Looiery om 10:00)
Old Crocs teen Die Lions om 14:00 Sondag op Mandela Park in Bridgton. (Voor Pro-10-wedstryd tussen RCB en Spartans om 10:00).
Cameron Rhoode speel 'n haakhou.
Tyrese Karelse se briljante 60 lopies het die Lions in staat gestel om 'n formidibale telling van 124 lopies op te stapel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'