OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium se o.19-A-span is die afgelope naweek as die nuwe SWD Skole T20-kampioene by Hoërskool Outeniqua bekroon. Vanjaar is die vierde keer dat Langenhoven Gimnasium sedert die toernooi se ontstaan in 2009/2010 dié titel inpalm.
In die kwarteindstryd van die SWD Skole T20-krieketreeks het Langenhoven Gimnasium teen Glenwood House te staan gekom. Gim het eerste kolf en 138 lopies vir die verlies van sewe paaltjies in hul toegelate 20 beurte gemoker met Lleyton Avontuur (57 ) en Arthur Muller (24) wat die beste met die kolf gevaar het.
Glenwood House is daarna vir slegs 89 lopies in die 20ste beurt uitgeboul.
Eaj Carew met drie paaltjies en Arthur Muller asook Rowan Rondganger (elk twee paaltjies) was Gimmies se helde met die bal.
Langenhoven Gimnasium wen die wedstryd met 49 lopies.
Halfeindstryd teen Oakdale:
Oakdale kolf eerste en teken 118 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte aan. Gimmies bereik die teiken reeds in die 13de boulbeurte aan met nege paaltjies nog staande.
Lleyton Avontuur 66 lopies het weereens met die kolf uitgeblink.
Langenhoven Gimnasium wen die wedstryd met 9 paaltjies.
Finaal teen Outeniqua:
Outeniqua kolf eerste en plaas 'n middelmatige 105 vir die verlies van vier paaltjies in hul toegelate 20 boulbeurte op die telbord.
Arthur Muller van Gimmies se suinige boulwerk het Hoërskool Outeniqua onder groot druk geplaas en het hy uiteindelik met twee paaltjies vir ses lopies platgetrek.
Gimmies het in dié spannende wedstryd die teiken (106/6 ) eers in die laaste boulbeurt bereik. Francois-Andre Beets het in die finaal 'n waardevolle 52 onoorwonne lopies aangeteken.
Langenhoven Gimnasium wen die wedstryd met vier paaltjies.
Gimmies sal nou teen die wenners van Boland en Westelike Provinsie in 'n nasionale driehoekige kriekettoernooi op 1 Maart in George te staan kom.
Die seëvierende Langenhoven Gimnasium A-span. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'