Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Timbercity Klein-Karoo sakeaflos wat Maandagaand in Baron van Rheedestraat plaasgevind het, was 'n reusesukses. Daar was ook weer 'n 'fancy-dress'-tema, en die personeel van die Oudtshoorn Vaardigheidskool het met die beste kostuumprys weggestap.
Altesaam 65 spanne teenoor die 51 spanne van 2018 het vanjaar deelgeneem. Verskeie skole, besighede, SANW, SAPD en Jan Alleman het deelgeneem om dit 'n feesgeleentheid soos min te maak.
Elke deelnemer wat die wedloop voltooi het, is beloon met 'n deelnemersmedalje. Die wenspanne het met goue medaljes weggestap.
Volgens Dave van der Walt, voorsitter van die Klein-Karoo Atletiekfonds (KKAF), is die toekoms van hierdie gewilde byeenkoms in die weegskaal as gevolg van die hoë logistieke kostes om dit aan te bied.
Hy het gesê dat hierdie gemeenskapsprojek een van die min pogings in die dorp is om kulturele warmte onder die gemeenskap van Oudtshoorn te bevorder, maar kry tans min tot geen geldelike steun vanaf die instansies wat uiteindelik daarby baat vind nie.
Van der Walt het Timbercity, Sante Fe Spur, Cango Caves, Highgate Volstruisplaas, Klein-Karoo Melkery, Black L Sekuriteit, Jakhals Events, Klein Karoo Event Medics, Brooks Audio, Wimpy, Oudtshoorn Courant, EDENfm, Du Plessis Motors en Oudtshoorn Ford bedank vir hul bydraes tot dié sakeaflos.
Drawwers en stappers in aksie.
Lees 'n vorige artikel: Timbercity-sakeaflos reusesukses
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'