OUDTSHOORN NUUS - Dit is tyd vir die Dryland Travese-wedloop. Hierdie vierdaagse staduimwedloop, wat die ikoniese roetes van die Klein-Karoo uitlig, het vinnig 'n gunsteling onder Suid-Afrikaanse hardlopers geword.
Die avontuur begin op unieke wyse met 'n ondergrondse wegspring in die wêreldbekende Kango-grotte, die enigste geleentheid waarvoor deelnemers toestemming kry om deur hierdie natuurwonder te hardloop.
Die daaropvolgende skofte neem deelnemers oor die majestueuse Swartbergberge, 'n Unesco Wêrelderfenisgebied, met asemrowende uitsigte oor die Groot- en Klein-Karoo, asook roetes wat verby die bekende Raubenheimerdam kronkel.
Daar bestaan eenvoudig geen ervaring wat die gevoel van prestasie, natuurskoon en unieke gees van hierdie gebeurtenis kan ewenaar nie - die Rhodes Dryland Traverse is 'n móét vir elke avontuurlustige deelnemer!
Wedloopprogram
Die Dryland Traverse se eerste skof skop af vandag, Donderdag 30 Oktober om 16:30 by die Kango-grotte. Die eerste skof se afstand is 'n sirkelroete van 9,5 km.
Skof twee vind plaas op Vrydag 31 Oktober van die Ou Tol na De Hoek met 'n afstand van 27,3 km en begin om 07:45. Die beginpunt is by die Ou Tol op die Swartbergpas en die eindpunt by die De Hoek-bergoord.
Die skof staan bekend as die koningskof met afdraandes, steil opdraandes en 'n asemrowende uitsig oor die Swartberge en Karoo.
Skof drie vind plaas op Saterdag
1 November om 09:00 met 'n afstand van 24,1 km met die beginpunt by De Kombuys-wynlandgoed en die eindpunt by die De Hoek-bergoord. Hierdie roete word beskryf as 'n pragtige roete wat wynlande, bergpaadjies en rivierstrome verbind, 'n balans tussen uitdaging en natuurskoon.
Die laaste skof, skof vier, vind plaas op Sondag 2 November met die begin en eindpunt die De Hoek-bergoord.
Die finale skof is 'n feestelike afsluiting met korter roetes rondom De Hoek, ontwerp om deelnemers hul medaljes met trots te laat verdien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’