OUDTSHOORN NUUS - Die Nedbank-hardloopklub SWD het Saterdag 30 Mei sy jaarlikse Comrades-marathon-afskeidsgeleentheid by Hennie's Restaurant in George gehou, waar atlete wat aan vanjaar se wedloop gaan deelneem, sterkte toegewens is.
Die geleentheid is verder verryk deur die teenwoordigheid van die Comrades-legende, Bruce Fordyce, wat as gasspreker opgetree het.
Fordyce het sy ervaring en inspirasie met die hardlopers gedeel voordat hy die amptelike Nedbank-hardloopklub se Comrades-T-hemde persoonlik aan die deelnemers oorhandig het.
Nedbank SWD sal vanjaar weer met 'n sterk span aan die Comrades-marathon, wat op 14 Junie in Durban plaasvind, deelneem. Die klub stuur onder meer 18 debutante wat vir die eerste keer die wêreldbekende ultramarathon sal aanpak.
Twee atlete van Oudtshoorn wat die klub gaan verteenwoordig, is Lloyd Bosman en Jason Jafta.
Volgens Danie Raubenheimer van Nedbank-hardloopklub SWD is Bosman, die naaswenner in die 2024 Two Oceans-marathon se 56 km-wedloop, een van die atlete om dop te hou. Hy voltooi tans sy finale voorbereidings in Dullstroom en sal in sy Comrades-debuut mik vir 'n plek onder die toptien.
Jason Jaftha gaan vanjaar aan sy 33ste Comrades deelneem. Foto: Liezl van Niekerk
Jafta neem vanjaar vir die 33ste keer aan die Comrades-marathon deel. Hy is verlede jaar vereer met die toekenning van 'n plaatjie op die Comrades-marathon se eremuur.
Aan die vrouekant word verwag dat Nerida Lubbe en Carla Spangenberg sterk vertonings sal lewer en vir silwermedaljes sal meeding.
Verskeie klubveterane sal ook belangrike mylpale nastreef. Joan van Wyngaard sal vir haar groen nommer hardloop nadat sy reeds nege Comrades-medaljes verwerf het. Una Saayman sal mik vir haar dubbele groen nommer ná 19 voltooide Comrades-marathons, terwyl Eddie Mouton sy drievoudige groen nommer sal najaag met reeds 29 Comrades-medaljes agter sy naam.
Die klub het sy waardering uitgespreek teenoor Hennie's Restaurant vir die borgskap en aanbieding van die afskeidsfunksie, asook teenoor almal wat bygedra het om die geleentheid 'n sukses te maak.
Lees ook:
Jafta vereer met plek op Comrades-eremuur
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’