Jafta, wat deel is van die Elite Groen Nommer Klub, het vanjaar sy 32ste Comrades-marathon voltooi, 'n prestasie wat hom 'n groen nommer met drie louriere besorg het.
Hardlopers ontvang een lourier vir elke tien voltooide Comrades-wedlope, en dié met 30 of meer dra drie louriere as teken van hul buitengewone deursettingsvermoë.
Hy het die Comrades vir die eerste keer in 1990 gehardloop en sedertdien slegs drie wedlope gemis. Met 32 voltooide wedlope oortref hy die vereiste vir 'n permanente groen nommer ruimskoots. Sy naam pryk nou trots op die amptelike Groen Nommer Klub se ererol en die Wall of Honour langs die Comrades-roete met uitsig oor die Vallei van 'n Duisend Heuwels.
Vir Jason is sy grootste motivering om aan te hou hardloop sy gesondheid, liefde vir die sport en die ondersteuning van sy vrou en twee kinders. "Ek het grootgeword op 'n plaas op die grottepad buite Oudtshoorn. Van kleins af het ek skool toe gedraf en weer terug huis toe. Ek was nog altyd lief vir hardloop," vertel hy.
Hy beklemtoon dat voorbereiding die sleutel tot sukses is. "Ek oefen daagliks langafstande met die hulp van Johann Coetzer, en een of twee keer per maand doen ek 'n 65 km. Jy moet jou bene gewoond maak aan die baie lang afstande, jy is vir ure aaneen op jou voete."
Sy eerste Comrades bly vir hom die lekkerste. "Ek was ongelooflik trots toe ek klaar was. Die moeilikste een was my laaste, toe ek ná 'n val 'n besering opgedoen het," vertel hy.
Vir Jason is hierdie eer meer as net 'n erkenning van prestasie, dit is 'n simbool van deursettingsvermoë, geloof en dankbaarheid. Ná skool het hy by die weermag aangesluit en twee jaar later as paramedikus gekwalifiseer, waarna hy by die Oudtshoorn-hospitaal gewerk het tot sy aftrede ses jaar gelede.
"Ek beskou dit as 'n groot voorreg om 'n plaatjie op die muur te hê. Hardloop leer jou meer as net fiksheid, dit leer jou stamina, volharding en karakter."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’