OUDTSHOORN NUUS - Die 15-jarige Aquila Julies, ’n oudleerder van Van Reede Skool in Oudtshoorn en tans ’n leerder aan Hoërskool Outeniqua, is gekies om vanaf 6 Julie aan die World Wide Scholarship (WWS) - Western Cape Schools Athletics Tour na Europa deel te neem.
Julies is vir die toer gekies op grond van sy uitstekende prestasies gedurende die 2026-atletiekseisoen, asook sy dissipline, toewyding en mededingende ingesteldheid.
Gedurende die toer sal hy saam met ander Wes-Kaapse atlete aan twee tot drie internasionale atletiekbyeenkomste deelneem. Die toer bied jong atlete die geleentheid om ervaring op te doen teen internasionale teenstanders en blootstelling aan hoëprestasie-omgewings te kry.
Volgens sy ma, Angelique Duiker, het Aquila reeds van kleins af sy talent op die atletiekbaan gewys.
“Hy neem aan die 100 m, 200 m en 400 m deel en het op ’n sportbeurs na Hoërskool Outeniqua gegaan. Ek is ongelooflik trots op sy prestasies. Hy het van jongs af verskeie atletiekkleure verwerf, die provinsie al verskeie kere verteenwoordig, maar om op so ’n jong ouderdom die geleentheid te kry om internasionaal deel te neem, is iets besonders,” sê sy.
Hoewel die uitnodiging ’n groot eer is, verg die toer aansienlike finansiële ondersteuning. Julies is tans op soek na borge om sy deelname moontlik te maak.
Belangstellendes wat hom wil ondersteun of meer inligting verlang, kan Angelique Duiker by 078 842 8689 of 068 944 5064 kontak. Skenkings kan ook gemaak word via die gesin se BackaBuddy-veldtog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’