Gallery
TUINROETE NUUS EN GALERY - Ná ’n week se strawwe mededinging oor verskeie sportsoorte, fisies en intellektueel, is Hoërskool Punt as algehele wenner van die interskole teen Langenhoven Gimnasium aangewys.
Gimmies het hulle egter goed opdraande gegee!
Dié jaarlikse samekoms, wat vanjaar in Mosselbaai gehou is, het op Woensdag 12 Augustus met gholf en padel afgeskop. Hier het Punt beide dissiplines gewen.
Skaak, debat, muurbal en sommige hokkiewedstryde is Vrydag gespeel waarna die hokkie weer Saterdag saam met die netbal en rugby voortgegaan het.
Punt was koning in die skaak, maar toe dit by die debatte kom, het Gimmies se woorde die sterkste gestaan.
Op die hokkieveld het Punt se seuns vir ’n algehele wen gesorg. Vir die meisies was dit ’n gelykopstryd en Punt en Gimmies deel dié trofee.
Beide skole se netbalspelers het hard baklei vir hierdie titel, maar Gimmies se meisies was vanjaar nét te sterk vir Punt, en het hier ’n algehele oorwinning behaal.
Daar is ook net so hard op die rugbyveld meegeding, maar Punt het weer bo uitgekom.
Albei skole het gesê hulle is besonder trots op elkeen wat betrokke was, en ook dankbaar vir almal wat tot die sukses van die interskole bygedra het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’