OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Rotariërs beplan 'n inisiatief van bykans R2 miljoen om terapeutiese speeltoerusting vir die twee kampusse van Eljada-Kairos Skool vir leerders met gestremdhede op te rig.
Volgens Mari-Lu Roller van Oudtshoorn Rotariërs bestaan daar 'n groot behoefte aan terapeutiese speeltoerusting by Eljada-Kairos se junior sowel as senior kampusse.
"Baie van die leerders is fisies gestrem en kan nie aan gewone speelgrondaktiwiteite deelneem nie. Met ons beoogde projek om by albei kampusse 'n Thera-Play Hub te vestig, kry hulle nie net die geleentheid om aktief te wees nie, maar ook om dit op 'n terapeutiese wyse te doen," het sy Donderdagaand tydens die besigheidskamer se netwerkfunksie aan gaste gesê.
Die Thera-play Hub is deel van die wêreldwye Rotary Global Grant-projek wat, indien die projek goedgekeur word, 'n gedeelte van die befondsing sal voorsien.
Tydens 'n gesprek met Oudtshoorn Courant het sy gesê: "Hierdie projek het ten doel om noodsaaklike terapeutiese dienste meer toeganklik te maak vir kinders van die skool en die gemeenskap wat tans nie die nodige ondersteuning ontvang nie.
"Ons wil groter bewustheid skep van die behoefte, asook die positiewe impak wat die projek kan hê." Sy het bygevoeg dat die fasiliteite nie slegs vir Eljada-Kairos se leerders aangewend sal word nie, maar ook vir ander organisasies wat met persone met gestremdhede werk.
Die twee kampusse maak voorsiening vir 270 leerders met ernstige intellektuele- en fisiese gestremdhede.
In die Rotariërs se voorlegging vir internasionale befondsing word daarop gewys dat speel nie blote tydverdryf vir hierdie leerders is nie; dit is terapie, rehabilitasie en voorkoming. Beweging stimuleer bloedsomloop, spiertonus koördinasie en op sensoriese vlak het dit ook neurologiese voordele en dien as kalmering. Die toerusting wat vir die Thera-play Hub benodig word, word in Denemarke vervaardig.
Die projek word in drie sub-projekte verdeel om drie verskillende behoeftes by Eljada-Kairos aan te spreek.
By die senior kampus in Oostelikeweg word 'n area van ongeveer 200m² beplan vir leerders van 13 tot 18 om krag, balans en koördinasie te ontwikkel.
'n Groter area van ongeveer 600m² word beplan vir die junior kampus waar gefokus word op groot motoriese vaardighede van leerders van 5 tot 13.
Die derde area sal ongeveer 300m² beslaan en word spesifiek ontwerp vir die behoeftes van leerders op die outistiese spektrum en sensoriese uitdagings.
Roller is deeglik bewus van die uitdagings waarmee opvoeders en terapeute daagliks by Eljada-Kairos in die gesig gestaar word aangesien sy vir etlike jare 'n opvoeder by dié skool was.
Sakeondernemings, ander Rotariër-klubs en gemeenskapslede word aangemoedig om deel te raak van hierdie inisiatief. Tydens die netwerkgeleentheid van die besigheidskamer het twee besighede reeds R10 000 elk vir die projek bewillig.
Instansies, besighede ne individue wat graag meer oor die projek wil uitvind of wil betrokke raak kan Mari-Lu Roller by 082 371 6886 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’