OUDTSHOORN NUUS - Daar is nog een maand oor om die jaarlikse Skoenboksprojek te ondersteun.
Dié projek gaan vanjaar vir die 19de agtereenvolgende jaar kinders en bejaardes met Kersgeskenke ondersteun. Die publiek word genooi om weer deel te word van dié projek van liefde en omgee.
Vanjaar se projek sal verskeie instansies in Oudtshoorn, George, Uniondale, Willowmore en Mosselbaai ondersteun.
Hulle sluit in die Helen Bellinganhof-tehuis vir bejaardes en Rooirivier VGK in Oudtshoorn, en die Môreson ACVV kinder- en jeugsorgsentrum, Badisa-pleegsorg, Huis Kay Baron, Rosemoor-tehuis vir bejaardes en Tuiniqua-versorgingsentrum in George.
Ander instansies is die Gert Greeff-tehuis in Willowmore, Le Taylder-huis en Kommandantsdrift Primêr in Uniondale, asook Karos Haven in Mosselbaai.
Elke geskenk is bestem vir ’n spesifieke kind of bejaarde. Skenkers ontvang die besonderhede van die ontvanger, insluitend hul naam en ouderdom, sodat elke geskenk persoonlik vir die betrokke persoon uitgekies kan word.
Die geskenke moet in ’n netjiese skoenboks of ’n ander boks van soortgelyke grootte verpak word. Geskenksakke van ’n soortgelyke grootte sal ook aanvaar word. Elke geskenk moet duidelik gemerk word met die ontvanger se naam, ouderdom en die naam van die instansie.
’n Riglyn van R250 per geskenk word voorgestel om ’n mate van eenvormigheid te verseker. Persone wat liewer ’n finansiële bydrae wil maak sodat die projekorganiseerders namens hulle ’n geskenk kan aankoop, kan die organiseerders kontak.
Die sluitingsdatum vir vanjaar se projek is 27 November. Die projek begin vroeg om genoeg tyd te gee om skenkers te werf en te verseker dat elke kind en bejaarde wat by die projek ingesluit is, ’n Kersgeskenk ontvang.
Die publiek word aangemoedig om die projek met familie, vriende en kollegas te deel en só te help om nog ’n Kersfees vir kinders en bejaardes spesiaal te maak.
Vir meer inligting
Vir meer inligting of om by die projek betrokke te raak, kan Janine Pretorius by 083 244 3228 of [email protected] gekontak word. Yolandi Claassens kan by 083 978 3913 of [email protected] gekontak word, en Anneline Smith by 084 703 5000 of [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’