OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium spog nou met nege unieke waterstasies wat op die skoolterrein opgerig is.
Die doel van die waterstasies, wat by die onderskeie sportvelde, kafeteria, asook die speelterrein opgerig is, is om toe te sien dat leerders toegang tot gesuiwerde water het wat uit die krane getap kan word.
Gerhard Loots, departementshoof, infrastruktuur Langenhoven Gimnasium, was in gesprek met Oudtshoorn Courant oor die inisiatief.
"Die projek, om gesuiwerde water vir ons leerders beskikbaar te stel, kom reeds 'n geruime tyd aan. Die water loop in 'n spoel ondergrond na elke bedieningspunt en die water is lekker koel, veral vir Oudtshoorn se warm somers. Dit is vir ons gerusstellend om te weet dat ons leerders toegang het tot gesuiwerde water, ook wanneer dit reën en Oudtshoorn se water troebel raak. Daar is vier stasies opgerig in die vierkant, een by die kafeteria, die grootse een met vier krane is by die rugbyveld. Die netbal, hokkie en astrobane spog ook nou met die waterstasies. Koshuisgangers het ook toegang tot so 'n waterstasie."
Loots noem dat die watersuiweringsisteem by die koshuise gekoppel is om munisipale water te suiwer.
"Die gehalte water wat ons nou het is ongelooflik. Ons voel dit dra by tot ons leerders se gesondheid." HydroPro het die skool gehelp om die droom te verwesenlik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’