OUDTSHOORN NUUS - Laerskool Laurus se grondslagfase-personeel het Saterdag 1 Augustus 'n insiggewende Six Bricks-opleiding ontvang.
Marlize Jansen van Vuuren, wat die opleiding bygewoon het, het met Oudtshoorn Courant gesels oor die unieke program.
"Die opleiding was baie leersaam en opvoedkundig. Dit was groot pret vir die opvoeders om praktiese aktiwiteite en speletjies met die ses gekleurde blokkies (six bricks) eerstehands te kon ervaar en daarmee te kon eksperimenteer. Dit is 'n prioriteit van die onderwysdepartement dat alle gr. R- tot gr. 3-leerders in alle skole blootgestel sal word aan Six Bricks en dit in hul klaskamers sal implementeer. Ons was baie dankbaar vir die geleentheid om die opleiding te kon bywoon en het ongelooflik baie geleer. Six Bricks is 'n inisiatief wat Laerskool Laurus beslis ondersteun en in gaan belê."
Sy verduidelik dat Six Bricks se hoofdoel is om leer deur spel en pret vir leerders toeganklik te maak. "Deur net ses gekleurde blokkies te gebruik leer die leerders talle vaardighede aan. Emosionele en sosiale vaardighede word versterk, luistervaardighede word ontwikkel, kognitiewe- en perseptuele vaardighede geniet aandag en terselfdertyd is dit hope pret."
Jansen van Vuuren verduidelik dat leer dus op 'n speelse manier plaasvind. "Six Bricks is voorheen by verskeie skole beproef en hierdie skole praat net met lof van hierdie fantastiese inisiatief."
Die Six Bricks-program bevorder spelgebaseerde leer in grondslagfase
Dit is 'n aktiewe, praktiese leerhulpmiddel wat deur Care for Education ontwikkel en deur die Lego Foundation gefinansier word.
As deel van die grondslagfase-inisiatief, in samewerking met die departement van basiese onderwys en Unicef, maak die program gebruik van ses helderkleurige Duplo-stene om kinders se kognitiewe, fisieke en sosiale vaardighede deur kort, speelse daaglikse aktiwiteite te ontwikkel.
Die program wys hoe spelgebaseerde leer alledaagse klaskameronderrig kan verryk en leerders op 'n prettige, interaktiewe manier by die leerproses betrek.
Die leerkragte wat die opleiding bygewoon het is agter, van links: Jossie Neetling, Marthine Koch, Marliny Steyn, Annie Rossouw, Twane Greeff en Liesel Erasmus. Voor: Leandra Nortier, Marlize Jansen van Vuuren en Michelle Vorster. Foto's: Laerskool Laurus
Hoofdoelwitte van die program
Die Six Bricks-program fokus daarop om uitvoerende funksies by jong leerders te ontwikkel deur werkgeheue, impulsbeheer en kognitiewe buigsaamheid te versterk.
Dit sluit naatloos aan by die grondslagfase-kurrikulum (gr. R tot gr. 3) en ondersteun vroeë kinderontwikkeling deur leer op 'n praktiese wyse aan te bied.
Die program bevorder ook inklusiewe onderwys deur stiller of minder selfver-sekerde leerders aan te moedig om met groter selfvertroue deel te neem, te kommunikeer en hulself uit te druk.
Verder stimuleer dit multisensoriese leer deur kinders geleidelik van konkrete, praktiese manipulasie van voorwerpe na abstrakte denke te begelei.
Voorbeelde van aktiwiteite
Een van die gewildste aktiwiteite isgeheue-reekse, waar onderwysers vir 'n paar sekondes 'n patroon van gekleurde stene uitpak, dit daarna wegsteek en die leerders vra om die patroon uit hul geheue te herskep. Hierdie oefening ontwikkel konsentrasie en geheuevaardighede.
Nog 'n aktiwiteit is middellynkruising, waar kinders die stene van die een kant van hul liggaam na die ander beweeg. Hierdie bewegings help om neurale verbindings te versterk wat belangrik is vir lees-, skryf- en wiskundevaardighede.
Die program moedig ook kreatiewe storie-vertelling aan. Leerders bou torings, diere of tonele met die stene en vertel daarna hul eie stories, wat taalontwikkeling, woordeskat en verbeelding stimuleer.
Deur emosionele uitdrukking word spesifieke kleure of vorms gebruik om gevoelens soos blydskap, hartseer of frustrasie voor te stel. Hierdie aktiwiteite help kinders om emosies te herken, te verwoord en beter te bestuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’