DYSSELSDORP NUUS - Geskiedenis is op Woensdag 15 Januarie gemaak met die amptelike opening van vyf nuwe inklusiewe onderwysklasse in Dysselsdorp.
Die opening van die klasse sal nou kwaliteit onderrig verseker vir kinders wat gespesialiseerde aandag nodig het.
Hierdie kinders is kinders wat outisme, fetale alkoholsindroom, asook ander agterstande het.
Ongeveer 100 leerders met spesiale behoeftes van Dysselsdorp sal voordeel trek deurdat hulle nou kan spog met hul eie klaskamers.
Die onderwysers in die klasse is ook opgelei om die nodige aandag aan die leerders te kan gee en toe te sien hul kry die beste skoolopleiding moontlik.
Volgens Carin Herbst, hoof leerderondersteuning en gespesialiseerde leerder- en opvoedingondersteuning vir die Eden en Sentraal-Karoo onderwysdistrik gaan die leerders nou die geleentheid kry om die DCAPS-kurrikulum te doen met 'n groot fokus op vaardighede.
"Die inisiatief maak dit vir die leerders moontlik om steeds in hulle gemeenskap te bly, maar toegang te kry tot gespesialiseerde onderwys."
Die droom om die spesiale klasse op die been te kry het baie beplanning en harde werk gekos. Dysselsdorp Primêr het nou drie klasse vir leerders met spesiale behoeftes terwyl PJ Badenhorst een klas gekry het en Dysselsdorp Primêr ook een klas.
Die toevoeging tot die drie skole beteken ook dat leerders nou van gr. 1 tot gr. 12 kan skoolgaan terwyl hulle toegerus word met die nodige vaardighede om na skool 'n loopbaan te kan volg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’