OUDTSHOORN NUUS - Nadat Mziwoxolo (Zoe) Tyatya van die ANC vir bykans twee maande as burgemeester van Oudtshoorn waargeneem het, is hy Dinsdag 7 April tydens 'n raadsvergadering as burgemeester verkies.
Johan Allers van die VF Plus is op 18 Februarie deur 'n mosie van wantroue uit die kussing gelig nadat die samewerking tussen die VF Plus, ANC en PA skipbreuk gely het.
Ongeveer drie weke gelede het die VF Plus en Icosa aangekondig dat hulle mosies van wantroue teen die speaker, Suzane Jansen (PA) en die onderburgemeester, Tyatya, ingedien het.
Die mosies het egter nooit gedien nie, aangesien vergaderings nie plaasgevind het nie. Dit was ook nie seker of die partye wat saamgespan het na Allers se verwydering genoeg stemme sou kry om die mosies te laat slaag nie.
Aangesien Oudtshoorn nie deur 'n volstrekte meerderheid regeer word nie, plaas dit kleiner partye in die posisie om tot 'n groot mate die lot van die dorp kan bepaal.
Die huidige raad van 25 raadslede bestaan tans uit die DA (7), Icosa (2) en VF Plus (3) wat 'n totaal van 12 gee. Aan die ander kant is die ANC (6) en die PA (3) wat 'n totaal van nege gee. Dit beteken dat Saamstaan (1), OGI (1), Good (1) en Advieskantoor (1) die magsbalans bepaal en kan besluit saam met wie hulle wil werk. Hierdie raadslede is ook proporsionele raadslede wat beteken hul partye kan hulle enige tyd met ander kandidate vervang.
Loretta Ryneveld (PA) en Ashwill Oktober (Good) is tydens Dinsdag se raadsvergadering as nuwe raadslede ingesweer. Foto: Hannes Visser
Teen verlede week was dit nog onseker by wie Good en Saamstaan hul gaan skaar. Dit was duidelik dat Advieskantoor en OGI reeds by die ANC en PA staan. Good se raadslid, Sonia Bentley, het oënskynlik tot steun van die VF Plus geneig, maar sy het verlede week bedank en is deur Ashwill Oktober vervang.
Teen Vrydag was dit duidelik dat albei kante 12 stemme het en dat Saamstaan die beslissende stem sal wees. Daar was verlede week skynbaar 'n verwagting dat Saamstaan in koalisie met die DA, VF Plus en Icosa sou gaan, maar dit het nie gerealiseer nie.
Met die aanvang van Dinsdag se raadsvergadering het Veronica Michaels van Saamstaan haar plek langs Tyatya ingeneem en die skrif was aan die muur dat die ANC en Saamstaan die burgemeesters- en onderburgemeesterspos waarskynlik sou inpalm.
Aan die DA-koalisie se kant is Chris Macpherson (DA) en Barbara Owen (Icosa) onderskeidelik as burgemeester en onderburgemeester genomineer en teenoor hulle is Tyatya en Michaels genomineer. Tyatya en Michaels is met elk met 13 stemme teenoor 12 tot burgemeester en onderburgemeester verkies.
Twee nuwe raadslede, Oktober en Loretta Ryneveld (PA) is ook as raadslede ingesweer. Ryneveld het onlangs die tussenverkiesing in wyk 5 gewen nadat Abraham Tiemie van die ANC bedank het.
Begroting goedgekeur
Die hoofagenda vir die vergadering was eintlik die konsepbegroting wat voorgelê moes word. Dit is na afhandeling van die verkiesing van die burgemeester en onderburgemeester gedoen en deur die raad goedgekeur. Vanaf 12 April word die burgemeester se imbizo's in elke wyk aangebied om inwoners geleentheid te gee om insette oor die begroting te lewer.
Volgens munisipale wetgewing moet die finale begroting na afloop van die openbare deelnameproses teen 31 Mei aan die raad vir goed-keuring voorgelê word.
Lees ook:
ANC welcomes Tyatya as new Oudtshoorn Mayor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’