Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - 'n Kennisgewing is vanoggend deur die speaker, Johan Allers, uitgestuur dat die raadsvergadering wat vandag om 10:00 sou plaasvind tot verdere kennisgewing uitgestel is.
Oudtshoorn Courant het vanoggend berig dat Zoë Tyatya, hoofsweep van die ANC, mosies teen burgemeester Chris Macpherson (DA), onderburgemeester Vlancio Donson (Icosa) en speaker Johan Allers (VF Plus) ingedien.
Hannes Visser, woordvoerder van die burgemeester, het vanoggend gesê die mosie teen die onderburgemeester sou nie meer dien nie, aangesien hy bedank het nadat hy as onderburgemeester by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit aangestel is.
"Dit is nie op hierdie stadium seker of die mosies teen die burgemeester en speaker by ‘n volgende vergadering gaan dien nie. Die verkiesing van ‘n nuwe onderburgemeester moet wel by die volgende raadsvergadering plaasvind."
Burgemeester Chris Macpherson. Foto: Liezl van NiekerkMosie teen die burgemeester
Volgens die agenda wat reeds gister uitgereik is, het Tyatya in sy motivering vir sy mosie teen die burgemeester gesê dat die meerderheid van die raadslede hul vertroue in die burgemeester verloor het.
Die mosie is, volgens die agenda, onder meer gebaseer op die feit dat die burgemeester versuim om sy pligte en verantwoordelikhede na te kom ingevolge die grondwet van Suid-Afrika, die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, die Wet op Munisipale Stelsels en die Wet op Munisipale Strukture, gebrek aan basiese bestuur, die negatiewe beeld van die munisipaliteit wat geskep word in die media weens die burgemeester se onwettige aksies, gebrek aan dienslewering en die agteruitgang van die paaie.
Mosie teen die onderburgemeester
Tyatya se motivering vir die mosie teen Donson behels ondermeer, volgens die agenda, dat Donson die werksverhouding tussen die burgemeester en die munisipale bestuur se kantoor afbreek.
"Dit is 'n welbekende feit dat daar 'n persepsie onder personeel en politieke partye is dat die onderburgemeester die munisipale bestuur probeer beïnvloed om onwettige besluite te neem."
Verder voer hy ook aan dat Donson aandadig is in die onwettige verandering van raadsbesluite in 'n poging om sy eie party en politieke belange te bevorder.
Mosie teen die speaker
Sy motivering vir die mosie teen Allers behels ondermeer, volgens die agenda, die feit dat hy onwettig sy speaker-stoel in die raadsvergadering op 4 Junie opgegee het sodat hy politieke verklarings oor die begroting kon maak. Tyatya beskuldig hom ook van politieke vooroordeel.
Lees ook: Mosies teen burgemeester en speaker ingedien
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’