OUDTSHOORN NUUS - Daar is 'n sterk moontlikheid dat Oudtshoorn vandag (Donderdag) 'n nuwe burgemeester en speaker mag hê na die ANC verlede week mosies van wantroue ingedien het.
Zoë Tyatya, hoofsweep van die ANC, het mosies teen burgemeester Chris Macpherson (DA), onderburgemeester Vlancio Donson (Icosa) en speaker Johan Allers (VF Plus) ingedien.
Die mosie teen Donson gaan outomaties gekanselleer word nadat hy verlede Vrydag as nuwe onderburgemeester van die
Tuinroete-distriksmunisipaliteit verkies is.
Hy het reeds sy bedanking as onder-burgemeester in Oudtshoorn ingedien en die raad behoort vandag 'n nuwe onderburgemeester vir Oudtshoorn te kies.
Volgens 'n verklaring van Hannes Visser, Macpherson se woordvoerder, kan elke party 'n lid voorstel as nuwe onderburgemeester vir die raad, en die voorstel moet gesekondeer word deur iemand anders. Daarna sal daar vir 'n nuwe onderburgemeester gestem word.
Die koalisie tussen Icosa, VF Plus, Suid-Kaap Saamstaan en DA beskik oor 13 van die 25 setels in die raad, wat beteken dat die magsbalans reeds op 'n mespunt gebalanseer is.
Volgens Tyatya het hy die mosies ingedien omdat hy en sy party glo die koalisiepartye wat tans in beheer is, nie werk nie.
"Daar is konstant onderlinge rusie tussen die partye en hulle kan nie eers op raadsvergaderings oor 'n item saamstem nie. So 'n bestuur kan nie gesond wees vir die munisipaliteit of die dorp nie," het hy gesê."
Donson die nuwe onder-burgemeester van GRDM.
Donson is verlede Vrydag, 5 Julie, tydens 'n spesiale raadsvergadering van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, as onderburgemeester verkies. Hy bly egter steeds 'n raadslid van die Oudtshoorn munisipale raad. Die voormalige speaker van Hessequa, Andrew Stroebel (DA), is as die nuwe burgemeester ingehuldig. Monique Simmers (DA) is die raad se nuwe hoofsweep.
Volgens hom dien hy steeds Oudtshoorn en sal sy nuwe posisie by die distriksmunisipaliteit net help om Oudtshoorn beter te dien.
"Die GRDM bied ongelooflike geleenthede vir mense en ek wil help dat meer van daardie geleenthede ons mense bereik. Daar is so baie opleidingsgeleenthede waarvan ons mense nie eens weet nie."
Donson het gesê dat hy beslis nie van plan is om sy standaard in Oudtshoorn te verslap nie.
"Dit gaan oor ons mense en hoe ek uit die distriksmunisipaliteit kan help om dienste te verbeter en te verseker dat almal dieselfde basiese dienste geniet."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’