Update
OUDTSHOORN NUUS - Politieke beheer oor die Kannaland-munisipaliteit is weer in die weegskaal.
Die ANC se provinsiale uitvoerende komitee het Dinsdag die twee ANC-raadslede, Magdalena Barry (burgemeester) en Phillipus Antonie, skriftelik in kennis gestel dat hulle hul samewerkingsooreenkoms met die twee DA-raadslede onmiddellik moet opsê. Die oorblywende drie setels in die raad behoort aan Icosa. Dit kan beteken dat Jeffrey Donson (Icosa) weer dié munisipaliteit se burgemeesterskap in die palm van sy hand sal hê.
Donson is na die Augustus 2016 munisipale verkiesing uit die burgemeesterstoel gelig, toe die twee DA-raadslede en twee ANC-raadslede ooreengekom om saam te werk. Beide die DA en ANC het sedertdien volgehou dat die samewerking tussen die raadslede nie met die goedkeuring van die partye is nie 'n koalisie tussen hulle as onwaar afgemaak. Ian Avontuur, Barry se woordvoerder, volstaan dat dit slegs 'n mondelingse bestuursooreenkoms is.
Avontuur het Woensdag bevestig dat Barry en Antonie'n skriftelike opdrag ontvang het om hulle ooreenkoms met die DA te staak. Dis nog onseker of hulle aan die opdrag gehoor sal gee. "Vir nou sal hulle in hul poste aanbly en Barry gaan nie haar burgemeesterskap opsê nie. Daar sal eers bepalende raadsvergaderings moet plaasvind."
Dawid Kamfer, Icosa se nasionale woordvoerder, het die aangeleentheid as 'n ANC-huishoudelike aangeleentheid beskryf. "Ek gaan op hierdie stadium myself van enige kommentaar weerhou."
Tertuis Simmers, Kannaland se DA-verkiesingshoof, het Woensdag gesê die Wes-Kaapse DA-topstruktuur is in gesprek oor die aangeleentheid. "'n Volledige persverklaring sal soos die aangeleentheid vorder, uitgereik word."
Lees 'n verwante artikel: Kannaland-Burgemeester slaan glo vrou
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'