Update
LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie ondersoek 'n klag van aanranding gewoon na die burgemeester van die Kannaland-munisipaliteit, Magdalena Barry, na bewering 'n vrou geslaan het.
Susanna Johannes (60) het 'n ANC-vergadering, wat ondermeer oor dienslewering gehandel het, in Zoar bygewoon toe die voorval plaasgevind het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die slagoffer 'n vraag aan die burgemeester gevra en die burgemeester het haar nie geantwoord nie.
"Die vrou het daarna uit die saal gestap. Buite die saal het die verdagte na bewering die vrou op haar regter wang met haar selfoon geslaan en lelik met haar gepraat," het Pojie gesê.
Johannes het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat sy baie ontevrede is oor die optrede van die burgemeester.
"Dit is 'n ANC-burgemeester en ek is al sedert 1994 lid van die ANC. Niemand gee haar die reg om my in my gesig te klap nie. Ek het haar gevra hoekom die munisipaliteit net sekere mense werk gee en sy het duidelik nie van die vraag gehou nie. Dit is nie reg nie."
Volgens Johannes het haar seun vir Barry gaan konfronteer.
"Die vrou het vir my kind gesê ek was dronk en dat sy my net gevee het, nie geklap het nie. Sy het my geklap. En al as dit ook net 'n vee gewees, gee dit haar nog steeds nie die reg om haar hande vir my te lig nie."
Ian Avontuurr, woordvoerder van die burgemeester, het in 'n verklaring gesê die burgemeester ontken ten sterkste die aanklag van aanranding teen haar en beskou dit as deel van 'n doelbewuste smeerveldtog teen haar.
Eugene Ludick, sekretaris van Zoar se ANC-tak, saam met Susanna Johannes in die polisiestasie waar sy die klag gelê het.
"Die jongste beweringe is deel van 'n veldtog teen Barry om politieke onstabiliteit in die munisipaliteit te bewerkstellig," lui die verklaring.
Lees 'n vorige artikel: Kannaland-Burgemeester klap glo vrou
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'