OUDTSHOORN NUUS - Die nuut verkose uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit, Chad Louw, is die jongste burgemeester in die geskiedenis van Oudtshoorn.
Die 24-jarige Louw van die ANC, is gister (Woensdag) as die nuwe burgemeester ingestem. Die ander kandidaat vir burgemeester was Chris Mcpherson. Louw het met vier stemme gewen.
Die raadsvergadering het seepglad verloop, met uitsondering van verskeie onderbrekings omdat die lede eers in koukusvergaderings ingegaan het om die poste van die raadslede te bespreek.
Oud-DA-burgemeester, Colan Sylvester, wat nou vir die Oudtshoorn Gemeenskaps-inisiatief staan, is as die nuwe speaker verkies. Die onderburgemeester is Vlancio Donson van Icosa. Hy het met 13 stemme teenoor Johan Allers (VF), wat 10 stemme gekry het, gewen.
Die ander raadslede wat tydens die dorp se eerste raadsvergadering na die verkiesing ingehuldig is, is Leon Campher (Advieskantoor), Nomsa Jaxa (ANC), Zwelakhe TyaTya (ANC), Dora Moos (ANC), Joey Canary (ANC), Abraham Tiemie (ANC), Jan van der Ross (ANC), Sharon van Rooyen (ANC), Johan Allers (VF), Johan Duvenhage (VF), Christine Muller (VF), Rayno April (DA), Anel Berry (DA), James du Preez (DA), Johan Fourie (DA), Jerome Lambaatjeen (DA), Chris Mcpherson (DA), Raymond Wildschut (DA), Barbara Owen (ICOSA), Sonia Bentley (GOOD), André Rondganger (PA) en Mlandeli Nyuka (Saamstaan).
Tydens Louw se eerste toespraak as burgemeester het hy gesê dat dit nou die tyd is vir 'n nuwer, jonger generasie om oor te neem en die dorp te verbeter.
"Dit is nie 'n one man show nie. Dit gaan nie oor my nie, maar oor die gemeenskap. Van vandag af sal ons hard werk om Oudtshoorn weer die dorp te maak wat hy was. Ons gaan fokus op ons dorp en dienslewering."
Hy het verder gesê dat hy dankbaar is vir die ouer generasie wat in die raad is, omdat hy weet dat hul kennis en ervaring van onskatbare waarde is.
"Ek hoop van harte dat ek almal op die raad se samewerking het. Hierdie is die begin van nuwe moontlikhede."
Volgens hom wil hy graag 'n inspirasie vir die jonger generasie wees.
"Ek wil 'n baken van hoop vir jongmense wees en wil graag help om ons jeug te ontwikkel."
Nomsa Jaxa van die ANC is aangewys as die hoofsweep van die raad.
Mcpherson het Louw na afloop van die stemprosesse gelukgewens met sy nuwe pos en gesê dat almal genoeg kruisies getrek het en dat dit nou die tyd is om aan die toekoms van Oudtshoorn te werk.
Donson het op sy beurt gesê hy weet dat Louw Oudtshoorn weer kan vat tot die hoogte waar hy eers was.
Kannaland en Prins Albert
Die nuwe munisipale raad van Kannaland is Dinsdag ingehuldig met Jeffrey Donson (Icosa) as burgemeester, Nicky Valentyn (ANC) as speaker en Werner Meshoa (Icosa) as onderburgemeester.
Die res van die raad is: Rodge Albertus (KIP), Aletta Steenkamp (DA) en Leonie Stuurman (ANC).
Hyrin Ruiters (Icosa) is verkies tot die raad van Garden Route-distriksmunisipaliteit.
Van links is Hyrin Ruiters, Jeffrey Donson (burgemeester) en Werner Meshoa (onderburgemeester). Hulle is al drie van Icosa. Foto verskaf
In Prins Albert het die ANC met die KGP en Patriotic Alliance in koalisie gegaan.
Die koalisie het vier setels teenoor die DA se drie. Die burgemeester is Margy Jafta (KGP), onderburgemeester is Arnold Mackay (PA) en die speaker is Elsabé Maans (ANC). Sidney Koonthea (DA) verteenwoordig Prins Albert op die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit.
Links is Prins Albert se nuwe onderburgemeester Arnold Mackay (PA), en regs is die nuwe burgemeester Margy Jaftha (KGP). Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'