MOTOR-NUUS - Ondanks 'n geringe afname in totale voertuigverkope van 957 eenhede (1,9%) vir 'n totaal van 49 670, het uitvoere wéér tot die redding gekom danksy 36 341 voertuie wat in September uitgevoer is.
Wat veral die oog gevang het, was dat die geringe afname in passasiersmotorverkope - 892 eenhede vir 'n totaal van 32 786 - in 'n groot mate teengewerk is deur die motorhuurbedryf wat vir 23,4% van hierdie totale verkope verantwoordelik was.
Hierteenoor het verkope van ligte handelsvoertuie (14 342) ietwat beter vertoon en was die verkopedaling net 168 eenhede (1,2%) teenoor September 'n jaar gelede. Die totaal van 14 342 rus grootliks op die skouers van Toyota se Hilux en Ford se Ranger.
Toyota is weer bo-aan die top-10-lys met 'n verstommende syfer van 12 351 wat 1 500 verkope beter is as in Augustus. Hierbenewens is Toyota op die punt om sy ideaal van 'n 25%-markaandeel te verwesenlik. Tans staan die markleier op 'n indrukwekkende 24,9% van alle voertuie wat in Suid-Afrika verkoop word.
Benewens die algehele topverkoper met Hilux op 3 943, het Corolla/Auris/Quest ook presteer met 1 680 verkope, gevolg deur 'n skitterende telling van 1 345 vir Fortuner. Yaris het ook goed bygedra met 1 111 verkope, terwyl RAV se 291 afsteek teen ander voertuie in sy segment soos Volkswagen Tiguan met 565 verkope.
Oudergewoonte staan Volkswagen sterk in die tweede plek met 8 553 verkope wat 600 voertuie meer is as sy Augustus-verkope. Ondanks 'n dramatiese prysverskil tussen Polo en die "ou Polo" wat nou as Vivo bemark word, verkies kopers steeds die hoër spesifikasie Polo. Die motor spog met 'n skitterende 3 866 totaal teenoor Vivo se 1 976.
Hyundai se Creta het 370 nuwe eienaars gekry.
Ook het die groep se duur Amarok gevorder met 291 verkope teenoor Augustus se lae syfer van 181. Dit is dié keer net-net beter as Hyundai se H-100 bakkie (290) en Mahindra Scorpio Pik Up (216).
Die derde plek behoort steeds aan Ford wie se totale syfer van 5 509 ook nagenoeg 500 eenhede beter was as in Augustus. Ford se toppresteerder, soos altyd, was Ranger (3 016), ondersteun deur Fiesta met 837 verkope, Everest met 426, en Figo met 520.
Hierdie totaal plaas Ford gemaklik voor Nissan (5 042) wat steeds in die vierde plek is danksy die NP200 met 1 888 verkope, NP300 (622) en Datsun GO met 485 eenhede wat nuwe tuistes gevind het.
Die immergroen X-Trail het 364 verkope aangeteken.
Hyundai, (2 949) het ietwat swakker gevaar as in Augustus, maar is steeds gemaklik in die vyfde plek danksy Grand i10 (1 049), i20 op 592 verkope en Creta wat na 370 nuwe eienaars gegaan het.
Die sesde plek onder die toptien behoort steeds aan Renault wat met 2 594 verkope ietwat stoom verloor het gemeet teen Augustus. Die maatskappy is egter steeds gemaklik voor Mercedes-Benz in die getalle-wedloop. Renault se sterre is oudergewoonte Kwid met 808 verkope, Clio IV met 677 en Duster met 373.
Mercedes-Benz bly in die sewende plek met 'n totaal van 1 910 verkope, maar is steeds te skugter om sy individuele modelverkope bekend te maak.
Die laaste drie plekke op die top-10-ranglys behoort aan Isuzu, BMW en Kia.
Isuzu met (1 493) het weer op sy KB-bakkies staatgemaak. Laasgenoemde het 1 193 verkope aangeteken, terwyl die MU-X sportnuts 55 verkope bygedra het.
BMW (1 463) gee ook nie modelverkope deur nie, maar het een plek opgeskuif na negende.
Dit was ten koste van KIA (1 350) wie se verkope met 400 eenhede teenoor die Augustus-syfers gedaal het. KIA se presteerders was Picanto (750) - redelik dramaties as dit vergelyk word met Augustus se syfer van 1 071 verkope. Net twee ander KIA-modelle het noemenswaardig presteer - Rio (271) en Sportage (208). Nie een van die maatskappy se ander modelle kon dubbelsyfers behaal nie.
Dit maak hierdie Koreaanse invoermotors kwesbaar vir ander invoerders soos Suzuki (1 140) wat reeds by Mazda (1 111) verby is en wie se nuwe Jimny die mark in November soos 'n warrelwind gaan tref.
Ander vervaardigers buite die toptien sluit in: Volvo (325) wie se XC60 (115), XC90 (49) en XC40 (78) die maatskappy se presteerders is.
In die super-luukse segment het Bentley (11) taamlik goed gevaar, Porsche het oudergewoonte geskitter op 102 verkope, terwyl Ferrari se 6 en Maserati se 5 verkope darem beter klink as die enkele koper wat sy geldjies gewaag het op 'n Audi R8.
Intussen glo ons dit is sokkies optrektyd vir Peugeot/Citroën (90) en Subaru (86).
Daar word verwag dat voertuigverkope nie noodwendig deur die waansinnige brandstofprysverhogings beïnvloed sal word nie, maar dat kooppatrone na kleiner, meer ekonomiese, modelle sal afwentel.
Hierteenoor sal die uitvoermark robuus bly: wat natuurlik goeie nuus vir ons ekonomie sal wees.
TOPTIEN PASSASIERMOTORS
- Volkswagen Polo - 3 866
- Volkswagen Polo Vivo - 1 976
- Toyota Corolla/Auris/Quest - 1 680
- Toyota Fortuner - 1 345
- Toyota Yaris - 1 111
- Hyundai Grand i10 - 1 049
- Ford Fiesta - 837
- Renault Kwid - 808
- KIA Picanto - 750
- Renault Clio IV - 677
TOPTIEN LIGTE HANDELSVOERTUIE
- Toyota Hilux - 3 943
- Ford Ranger - 3 016
- Nissan NP200 - 1 888
- Toyota Quantum - 1 287
- Isuzu KB - 1 193
- Nissan NP300 - 622
- Volkswagen Amarok - 291
- Hyundai H100 - 290
- Mahindra Scorpio Pik Up - 216
- Toyota Land Cruiser PU - 178
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'