Soos van 'n Honda verwag word, is die voertuig baie gerieflik met uitsonderlike vakmanskap, dinamika en standaardtoerusting. Die Accord is ook nou langer, breër en ruimer soos die Motorgids Suid-Kaap self verlede jaar by die Johannesburgse Internasionale Motorskou (JIMS) gesien het.
Tog is die motor se voorkoms glad nie selfingenome nie - dit lyk lekker sportief en die kort kennismaking tydens die bekendstelling het ons ook gewys wat onder die enjinkap gebeur op die interessante roete in die Wes-Kaap.
"Die bekendstelling van hierdie nuwe model lui 'n nuwe tydvak vir Accord in Suid-Afrika in," sê Graham Eagle, bemarkings- en verkopedirekteur van Honda Motor Suider-Afrika.
"Die Accord is 'n wêreldmotor met internasionale ontwerptaal. Hoewel die modelnaam altyd 'n sleutelposisie binne ons modelreeks beklee het, sal die ruimer en meer verfynde nuwe Accord nou die onbetwiste vlagskip in die reeks wees.
"Om hierdie posisie te versterk, het Honda Motor Suider-Afrika, ná deur-dagte oorweging, besluit om die Accord wat primêr vir die Noord-Amerikaanse mark ontwerp is, plaaslik bekend te stel," sê Eagle.
MODELLE
Drie modelle: Elegance, Executive of Exclusive is in verskillende afwerkings beskikbaar met 'n keuse van 2,0 liter of 2,4 liter-viersilinderenjins, of vir die eer-ste keer in Suid-Afrika, met 'n kragtige 3,5 liter-V6-enjin.
Die tweeliter- en 2,4 liter-modelle is met 'n verfynde, vyfgang outomatiese ratkas toegerus, terwyl 'n gevorderde sesgang-outomatiese ratkas vir die V6-topmodel gereserveer is.
Volgens Eagle sal die toevoeging van 'n V6-model beteken dat die Accord nou aan die bopunt van die middelslag-weeldeklas kan meeding. Hy glo dat oordeelkundige kopers die uitnemendheid van hierdie elegante sedan sal waardeer.
ONTWERP
Die motor is heeltemal herontwerp onder die wakende oog van hoofprojekleier, Shoji Matsui, wat van 1985 tot 1996 as ingenieur aan Accord-projekte gewerk het. Die eindproduk is 'n ruim nuwe model met beter hantering en rydinamika, verbeterde sig, beter brandstofverbruik en beter veiligheidstelsels.
Met 'n lengte van 4 885 mm is die nuwe model ietwat korter en met 'n korter asafstand as sy Noord-Amerikaanse voorganger, maar 160 mm langer as die vorige Europese model.
Die ontwerp gebruik meer hoësterkte-staal as enige van sy voorgangers, wat dit hoë strukturele integriteit vir 'n beter ritgehalte en presiese hantering beteken.
Die bakontwerp lyk vasberade met vaartbelynde selfvertroue wat dui op doeltreffende lugdinamika. Die kant-ontwerp is ook stylvol en het 'n sterk karakterlyn wat van voor na agter styg oor die deuroppervlakke met 'n verdere beklemtoonde kontoerlyn laag oor die deure en 'n idee van beweging gee.
Die chroom-deurhandvatsels en bykomende afwerking op die agterpaneel is ook netjies en elegant.
BINNE
Rapport-kollega Egmont Sippel en ek het baie van die ruim binnekant met sy fyn vakmanskap en afwerking binne gehou. Die deure en deksels van die menige pakplekkies was eksie-perfeksie wat elke keer sag oop- en toegeklik het. Hierdie vlak van aandag aan detail skort soms in baie duurder spogmotors.
Die vlak van standard-tegnologie is ook nie afgeskeep nie en 'n nuwe paneelbord met duidelike inligtingstelsels sorg vir 'n vinnige kennismaking met alles wat die bestuurder moet weet. Beheer en instrumentasie is eenvoudig en die herontwerpte sitplekke en dubbelsone-klimaatbeheer sorg vir gerief van die passasiers en bestuurder.
Die beenruimte is 'n langerige 108 cm voor en 98 cm agter, die voorste skouerruimte is 150 cm en 144 cm agter, terwyl kopruimte onderskeidelik 96 cm en 94 cm is. Die ruim bagasiebak het vloer wat byna heeltemal plat is en 453 liter bagasieruimte bied.
Die tru-kamera is standaard in al drie modelle en kan gesien word op die volkleur-inligtingskerm (i-MID), die beheersentrum wat ook die Accord se ander elektroniese funksies huisves.
Die motor het ook 'n nuwe klankstelsel met raakskerm en handige Bluetooth-funksie, asook 'n USB- en Aux-verbin-ding as standaard. In die 2,0 liter Elegance-model is dit aan ses luidsprekers gekoppel, met 'n bykomende sub-bas-luidspreker in die 2,4 liter Executive- en V6 Exclusive-modelle.
Ander standaard-bykomstighede is: elektries-beheerde ruite, verwarmde leersitplekke vir die bestuurder en voorste passasier met agtrigting elektriese verstelling en geheue vir die bestuurdersitplek. Die veelfunksie-stuurwiel is met leer bedek en die buite-tempe-ratuur word gewys. Daar is ook armrusplekke voor en agter en lugversorging-ventilasie vir die agterste passasiers.
ENJINS
Die nuwe Honda Accord is beskikbaar met 'n keuse van twee petrolaangedrewe enjins met vier silinders in gelid, of 'n V6. Die intreevlak-2,0 liter EBNA i-VTEC-enjin, oorgedra vanaf die vorige model, lewer 114 kW en 190 Nm wringkrag. Dit laat die 2,0 liter-Accord toe om in 11,7 sekondes van stilstand tot 100 km/h te versnel en 'n topsnelheid van 200 km/h te bereik.
Die verbruiksyfer in die gekombineerde siklus is 7,5 liter/100 km met 'n gepubliseerde uitlaatgasvlak van 178 g/km.
Die 2,4 liter-DBNA i-VTEC-enjin gebruik Honda se Earth Dreams-tegnologie wat daarop gemik is om brandstofverbruik te verbeter en die maatskappy se impak op die omgewing te verminder. Met geprogrammeerde petrolinspuiting (PGM-Fi) het dit ''n maksimum-kraglewering van 132 kW, gekombineer met wringkragpiek van 225 Nm.
Dit stel die Executive tot in staat om van 0 tot 100 km/h te draf in 10,6 sekondes. Gepubliseerde brandstofverbruik vir dié model is
8,1 liter/100 km in die gekombineerde siklus en 'n uitlaatvlak van 192 g/km.
Die 3,5 liter-V6 i-VTEC-enjin met Earth Dreams-tegnologie en veranderlike silinderbeheer (Variable Cylinder Management, of VCM) ontwikkel 'n stewige 207 kW met piek-wringkrag van 339 Nm, wat die nuwe V6 Exclusive die kragtigste Accord maak wat nóg plaaslik beskikbaar gestel is. Die V6 versnel van 0 tot 100 km/h in 7,2 sek, maar gepubliseerde brandstofsyfers is slegs
9,2 liter per 100 km in die gekombineerde siklus, met 'n uitlaatgasvlak van 217 g/km.
Al die nuwe Accord-modelle gebruik ook 'n aktiewe geraaskanselleerstelsel (Active Noise Cancellation, of ANC) wat deur mikrofone en 'n sein-verwerker geaktiveer word om ongewenste klanke soos wind-, pad- en bandgeraas teen te werk.
Die ondervinding tydens die bekendstelling was dat die nuwe Accord een van die stilste motors was waarin ons vir 'n lang tyd gery het - wat sekerlik vir die motor se teikenmark baie belangrik sal wees!
VEILIGHEID
Die nuwe Accord het 'n wye reeks gevorderde aktiewe en passiewe veiligheidstelsels waaronder sluitweerremme (ABS) met elektroniese remkragverspreiding (EBD) en noodremhulp (EBA), voertuigstabiliteitshulp (VSA), bultwegtrekhulp, sleewa-stabiliteitshulp (TSA), dag-ryligte, veelvuldige lugsakke en aktiewe kopstutte is standaard in alle modelle.
Honda se jongste gevorderde bestuurshulpstelsel (Advanced Driver Assist System, of ADAS) is 'n bekroonde veiligheidstelsel met laanhou-hulp en 'n vermindering van botsing-risiko as standaard in die topmodel 3,5 V6 Exclusive insluit.
Laasgenoemde stelsel (Collision Mitigation Braking System of CMBS) gebruik radar om deurentyd die afstand- en spoedverskil tussen die Accord en motors voor te meet. Indien die afstand onveilig raak, waarsku die stelsel die bestuurder visueel en met klank deur die multi-inligtingskermstelsel (i-MID).
Indien 'n botsing meer waarskynlik raak, sal die stelsel steeds waarsku, maar ook die bestuurder se sitplekgordel pluk die motor liggies begin rem.
Indien 'n botsing onvermydelik raak, sal die klank en visuele waarskuwings voortgaan terwyl die bestuurder en voorste passasier se sitplek-gordels teruggetrek word. Daar sal ook hard gerem word. Indien die botsing wel vermy word, sal die stelsel afskakel en die bestuurder kan weer beheer oorneem.
Die laanhou-hulpstelsel (Lane Keeping Assist System, oftewel LKAS) waarsku die bestuurder as hy of sy uit 'n laan beweeg, terwyl die aanpasbare togbeheer (Adaptive Cruise Control, of ACC) sy snelheid volgens 'n vooraf-vasgestelde volgafstand reguleer. Die blindekol-waarskuwing (Lanewatch Blindspot Display) gebruik 'n kamera onder die kantspieël aan die passasierskant om 'n wyehoek-sigveld van die pad aan die passasierskant op die inligtingskerm te wys.
Die stelsel help die bestuurder om verkeer, voetgangers of ander voorwerpe in die voertuig se blinde kol te sien.
BESONDERHEDE
Die nuwe Accord-reeks is in sewe moderne kleure beskikbaar: White Orchid, Alabaster Silver, Twilight Blue, Modern Steel, Carnelian Red, Crystal Black and Golden Brown. Honda se drie jaar of 100 000 km-waarborg is standaard vir al die modelle.
Vir meer gemoedsrus het die Accord 2,0 Elegance en 2,4 Executive 'n standaard-diensplan van vyf jaar of 90 000 km, terwyl 'n vyf jaar of 100 000 km-diensplan standaard by die 3,5 V6 Exclusive se koopprys ingesluit is. Die voor-gestelde verkooppryse sluit ook 'n jaar se padbystanddiens in.
Voorgestelde verkooppryse wat alle belasting insluit, is: Honda Accord 2,0 Elegance -
R389 000; Honda Accord 2,4 Executive -
R449 000; Honda Accord 3,5 V6 Exclusive - R549 000.
Diensintervalle vir die 2,0 Elegance en 2,4 Executive is 15 000 km, vir die 3.5 V6 Exclusive is dit 10 000 km.

Die nuwe Accord van Honda se afwerking is puik - binne en buite.

Die Accord is baie gerieflik binne met uitsonderlike vakmanskap.

Die Accord is ook nou langer, breër en ruimer soos die Motorgids Suid-Kaap self verlede jaar by die Johannesburgse Internasionale Motorskou (JIMS) gesien het.
ARTIKEL: ANICA KRUGER, SUID-KAAP MOTORGIDS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'