OUDTSHOORN NUUS - Sowat 40 Datsun-liefhebbers van die Wes- en Oos-Kaap het die afgelope naweek op Oudtshoorn ten bate van liefdadigheid saamgetrek. Tydens die geleentheid het hulle klere, speelgoed en blikkieskos aan drie kleuterskole oorhandig. Die geleentheid is ook gebruik om kinders teen dwelms te waarsku.
Volgens die plaaslike organiseerder, Deon le Roux, was dit 'n geslaagde saamtrek met Datsun-liefhebbers van Kaapstad, Stellenbosch, Robertson, Port Elizabeth, Uitenhage en Oudtshoorn, wat dit bygewoon het.
Die groep het hul blinkgevryfde rygoed Saterdagoggend regoor die Bridgton Garage aan die publiek vertoon.
Volgens Mullen Jones van Kaapstad heers daar nog groot belangstelling en liefde vir dié gewilde rygoed van weleer.
Hul leuse is: "Vir die liefde van Datsuns". Die groep het ook 'n Facebook-blad en 'n WhatsApp-groep, albei met die naam "All about Datsun" met meer as 2 000 volgelinge.
Volgens hom gaan die besoek aan Oudtshoorn nou 'n jaarlikse instelling aan die einde van April word.
"Ons het 'n fantastiese tyd op Oudtshoorn gehad en ook die Kango-grotte besoek. Ons behoort nie aan 'n klub nie. Dit is 'n beweging vir die hele gesin en daar word geen fooie betaal nie," sê Jones.
Hulle beoog om miskien in Junie ook 'n besoek aan Robertson te bring en daar komberse aan mense in nood uit te deel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'