OUDTSHOORN NUUS - Twee voorvalle van opsetlike saakbeskadiging word deur die Oudtshoorn-polisie ondersoek na twee winkels se ruite in afsonderlike voorvalle stukkend geslaan is.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is nog twee klagtes van opsetlike saakbeskadiging tussen 1 en 2 Februarie aangemeld na China Clothing Store en Foschini se vensters ook gebreek is.
Die eienaar van China Clothing Store, Qwamei Gao, in Hoogstraat het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat dit die tweede naweek na mekaar is wat haar winkel se ruite stukkend geslaan word.
Volgens haar wys geslotekring-televisiebeeldmateriaal in twee voorvalle hoe die mans voor haar winkel staan. "Dit lyk of die een man die venster stukkend skop en die ander een slaan die venster met sy elmboog stukkend."
Die ander winkel, Legit, se ruit is ook stukkend, maar daar kan nie bevestig word dat dieselfde persoon of persone vir dié voorval verantwoordelik is nie.
Die man het moontlik inligting oor die voorval waar die China Clothing Store se venster gebreek is. Foto verskaf
Volgens 'n persoon wat by een van die winkels in Hoogstraat werk, maar verkies om anoniem te bly omdat hulle bang is dat hulle geteiken kan word, is dit nie die eerste keer wat venster oor 'n naweek stukkend geslaan word nie. "Ons vermoed dit is mense wat by nabygeleë kuierplekke kuier en dan onder die invloed in die straat af stap en die vensters breek.
Die Oudtshoorn Courant is in besit van beeldmateriaal van twee afsonderlike gevalle by die klerewinkel waar daar gesien kan word hoe mans die ruite slaan.
Indien enigiemand inligting het in verband met die voorvalle skakel die polisie by 044 203 9022 of 044 274 4400.
Vorige artikel: Winkelvensters stukkend geslaan
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'