Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Twee voorvalle van opsetlike saakbeskadiging word deur die Oudtshoorn-polisie ondersoek na twee winkels se ruite in afsonderlike voorvalle stukkend geslaan is.
Die eienaar van China Clothing Store, Qwamei Gao, in Hoogstraat het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat dit die tweede naweek na mekaar is wat haar winkel se ruite stukkend geslaan word.
Volgens haar wys geslote kringtelevisiemateriaal in twee voorvalle hoe die mans voor haar winkel staan.
“Dit lyk of die een man die venster stukkend skop en die ander een slaan die venster met sy elmboog stukkend.”
Die ander winkel, Legit, se ruit is ook stukkend, maar daar kan nie bevestig word dat dieselfde persoon of persone vir dié voorval verantwoordelik is nie.
Volgens ‘n persoon wat by een van die winkels in Hoogstraat werk, maar verkies om anoniem te bly omdat hulle bang is dat hulle geteiken kan word, is dit nie die eerste keer wat venster stukkend geslaan word oor ‘n naweek nie.
“Ons vermoed dit is mense wat by nabygeleë kuierplekke kuier en dan onder die invloed in die straat af stap en die vensters breek.”
Die Oudtshoorn Courant het beeldmateriaal by Gao bekom van een van die voorvalle. Die polisie is opsoek na die persoon op die video wat moontlik inligting het oor die voorvalle. Kyk die video hieronder.
Indien enigiemand inligting het, skakel die polisie by 044 203 9022 of 044 274 4400.
China Clothing Store in Hoogstraat.
Indien enigiemand inligting het, skakel die polisie by 044 203 9022 of 044 274 4400.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'