OUDTSHOORN NUUS - Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, in vennootskap met die gemeenskapsradiostasie, EDENfm, het die naweek van 15 tot 17 Julie ’n baie suksesvolle driedae-lange kamp vir die ritmeseksie en koperblaas-opleiding by die Schoemanshoek-kultuursentrum aangebied.
Dié meesterklasse en klinieke is bygewoon deur jeugdiges van brigade-orkeste in George, Mosselbaai, Groot-Brakrivier, Suurbraak, Oudtshoorn, Laingsburg, Prins Albert en Manenberg.
Die jong musikante is deur van die Wes-Kaap se mees bekroonde jazzmusikante, George Werner, Mr Caso, Peter Ndlala, Kurt Bowers, Duncan Johnson en Kyle Daniel onder hande geneem.
Die doel van die kamp was om jong koperblaas-orkeslede en opkomende jazzmusikante se speelvermoë tot hoër hoogtes te lig en ook blootstelling te gee aan die Suid-Afrikaanse Liedereboek.
Volgens die aanbieders was ‘n verdere doelwit van die naweek se program ook om opkomende instrumentaliste die geleentheid te gee om meer te leer oor die onderliggende teorieë, orkesmusiek en koperblaas. Of dit nou kom by die speel van ‘n trommestel, klavier, kitaar, ‘n basinstrument, trompet of die tromboon is.
Die jongmense is ook bekende Kaapse musiekstyle soos die Ghoema en Mbacanga aangeleer.
Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’