Update
OUDTSHOORN NUUS - Barbara Owen, ‘n raadslid van die Oudtshoorn-munisipaliteit was vanoggend die eerste getuie in die Preston Titus-moordverhoor. Volgens haar het sy einde November 2017 ‘n bedrag van R800 by Pep Stores in iemand se rekening oorbetaal nadat Magdaleen (Maggie) Titus, Preston se vrou, haar gevra het om dit te doen.
Maggie kon nie self dit oorbetaal nie omdat sy nie haar identiteitsdokument by haar gehad het nie. Owen het gesê sy weet ook nie aan wie die geld oorbetaal is nie.
Sixabiso Klip, die verdagte wat die dag van Maggie se arrestasie ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis is, is tans besig om te getuig. Lede van die publiek sit in spanning en luister na Klip se verduideliking van wat presies die dag van die moord gebeur het.
Klip het begin deur sy werksverhouding met Maggie te verduidelik en gesê dat hy nooit ‘n liefdesverhouding met haar gehad het nie. Volgens hom het Maggie egter wel ‘n verhouding met Masithembe January gehad. Die staatsaanklaer het hom gevra of Maggie nog verhoudings buite die eg gehad het, waarop hy reageer het dat daar regtig baie ander verhoudings was.
Volgens Klip moes die moord op Preston op 30 November 2017 gebeur het. Dit kon egter nie gebeur nie omdat Preston vriende gehad het wat daardie aand by hom oorgeslaap het.
Daarna het Maggie, volgens hom, aangedring daarop dat die moord die middag van 1 Desember gebeur. Sy het die kinders vir die middag uitgeneem. Justice Mooi het volgens Klip se getuienis pepersproei en pille gekoop waarna hy Jusitce en ‘n onbekende man, wat saam met Mooi van PE af gekom het, na Maggie se huis gegaan het. Klip het aan die deur geklop en gesê hy het pastore gebring.
Magdaleen Titus. Foto’s: Liezl van Niekerk
Klip het Mooi en die onbekende man in die motor gaan haal en hulle as patore aan Preston voorgestel. Klip het uitgestap om te gaan rook en met sy terugkeer in Xhosa vir Mooi gesê die bure is buite.
Tydens sy getuienis het hy erken dat hy gejok het oor die bure wat buite was, want hy wou nie teenwoordig wees met die moord nie. Klip, Mooi en die onbekende man het aan Preston gesê hulle sal eerder terugkom as Maggie weer tuis is.
Hy het verder in getuig oor die hamer wat ook in die moord gebruik is en dat Justice hom gevra het om die hamer te bring. Hy het ook getuig oor die R30 000 wat hy en Mooi en MJ vir die moord sou ontvang en dat hy die motor bestuur het om die beweerde huurmoordenaars tot by Maggie se huis te neem en te wag tot hulle klaar is.
Sy getuienis sal na middagete voortgaan.
Lees 'n vorige artikel: Weermagmoord: Dag 4 van weermagmoordverhoor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'