Update
OUDSTHOORN NUUS - Die vierde verdagte, 'n kaptein van die Oudtshoorn Infanterieskool, wat na bewering in verlede Maandag se transitoroof by die Bridgton-vulstasie betrokke was, het Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Dit volg na hy Vrydag 23 Julie in hegtenis geneem is.
Volgens Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, het die Valke se eenheid vir prioriteitsmisdade, in samewerking met lede van die Attaqua-honde-eenheid Sakhele Thembalekhaya Nkabi (36), in Oudtshoorn in hegtenis geneem.
'n Fidelity-geldwa is tydens die gewapende roof van R86 000 kontant beroof. Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat 'n getuie gesien het hoe die vermeende rowers die sekerheidswag van Fidelity ontwapen, met sy eie boeie vasmaak en daarna met die geld wat hulle gesteel het, weggery het.
Die ander drie verdagtes, Lwandiso Lucas Lento (36), Masixole Dolomba (27) en Simphiwe Matwa (41), is kort na die voorval aan George se kant van die Outeniquapas in hegtenis geneem. Dié drie verdagtes is in George woonagtig terwyl Nkabi in Oudtshoorn woon.
Kaptein Sakhele Thembalekhaya Nkabi. Foto's verskaf deur die Valke
Simphiwe Matwa
Lwandiso Lucas Lento
Masixole Dolomba
Volgens Hani het die verdagtes in 'n Nissan Sentra gevlug. Tydens die deursoeking van die voertuig het die lede op die toneel op die gesteelde geld afgekom.
Daar is ook op twee vuurwapens sowel as 'n weermagbaadjie met Nkabi se naam, rang en 'n lojale diensmedalje daarop in die voertuig gevind. Een van die vuurwapens se reeksnommer is afgevyl.
"Verdere ondersoek het aangedui dat 'n wit Toyota Tazz met vervalste nommerplate ook in die roof gebruik is en dat Nkabi die bestuurder van dié voertuig was."
Die Tazz is as die wegkomvoertuig gebruik. Die vermeende rowers het die voertuig tot in 'n ander deel van die dorp bestuur waar hulle die gesteelde goedere in die Sentra oorgesit het en by die dorp uitgery het."
Volgens Hani het die Valke verskeie leidrade van speurders in Oudtshoorn opgevolg en die Tazz in 'n erf in Parkweg naby die Infanterieskool gekry. Die vervalste nommerplate wat in die roof gebruik is, is in die voertuig gevind.
Die klag teen al vier die verdagtes is roof met verswarende omstandighede. Hulle verskyn op 3 Augustus vir 'n formele borgtogaansoek.
Vorige artikels:
- Weermag kaptein doen in Augustus aansoek om borgtog
- Oudtshoorn soldier 4th suspect in heist
- Opvolg: Gesteelde geld teruggevind
- Rowers teiken geldwa
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'