Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die vlak van die Raubenheimerdam wat vroeër vanjaar onder 50% was, het die afgelope maand drasties gestyg.
Na goeie reënval die afgelope aantal maande was die damvlak 'n week gelede op 63%, maar na uitstekende reënval in die opvangsgebied het dit binne 'n week teen Maandag 12 Oktober, tot 76% gestyg. Met die Melvilledam wat vol is en 5% van die Raubenheimerdam se inhoud bevat, is die totale watervlak tans 81%.
Volgens 'n verklaring wat Maandag deur Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgereik is, kan die waterbeperkings wat reeds drie jaar gelede ingestel is, nou hersien word. Die raad moet egter die aanpassing of opheffing van die huidige waterbeperkings eers goedkeur voordat dit in werking kan tree.
Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, is verheug oor die styging van die dam se watervlak, maar ook vol lof vir die wyse waarop inwoners die waterbeperkings nagekom het.
"Ons opregte dank aan elke inwoner van Oudtshoorn wat met die munisipaliteit saamgewerk het sedert die aankondiging van 'n droogtenoodtoestand drie jaar gelede. Ons wil inwoners egter vra om steeds water te bespaar, want die weer is onvoorspelbaar en elke druppel is steeds kosbaar," het hy Maandag gesê.
Kyk 'n video hieronder
Hy het bygevoeg dat Oudtshoorn nie graag weer in die situasie van die afgelope drie jaar wil beland nie en dat verbruikers hulle huidige patroon van omsigtige waterverbruik moet voortsit, want water bly steeds 'n skaars en uiters noodsaaklike natuurlike hulpbron.
Dit blyk dat boere in die Calitzdorp omgewing ook 'n effensel verligting van die droogte ervaar.
Volgens Boets Nel van De Karans wynkelder is die Calitzdorpdam wat op kritiek-lae vlakke was, nou op 60% na die afgelope naweek se reënval van 18mm. Volgens hom is daar nou vir die eerste keer in vyf jaar genoeg water noord van die Gankarivier.
Landbouers suid van die rivier is egter steeds benoud, want hulle kry water uit die Gamkapoortdam wat tans op 4% is. "Maar, ons hoop en glo dat daardie dam se tyd vir water ook naby is," sê Nel.
Die damvlak op 13 Oktober 2020.
Die vlak van die Raubenheimerdam soos dit tans op 76% daar uitsien. Foto: Hannes Visser
Die damvlak in 2018.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'