PRINS ALBERT NUUS - Inwoners en besoekers van Prins Albert word ernstig gemaan om waterbeperkings streng te volg. Watervoorsiening is tans laer as die aanvraag en as gevolg van lae druk is dele van die dorp sonder water.
Die huidige droogte is die grootste faktor, maar dit blyk dat mense se ignorering van beperkings tot die huidige krisis lei.
Beurtwater is vandag, 1 Januarie vanaf 23:00 tot môreoggend om 04:00 waartydens watertoevoer vir die hele dorp afgesluit sal wees.
Inwoners word gevra om nie tydens beurtwater krane oop te maak nie aangesien dit die waterdruk in die stelsel belemmer.
Inwoners word gevra om waterverbruik tot 90 liter per persoon per dag te beperk.
'n Waterpunt sal vanaf 10:00 tot 18:00 vandag beskikbaar wees by die munisipale kantore te Kerkstraat vir inwoners in die laagdruk areas. Die water is nie gesuiwer vir drink nie maar kan vir die toilet en vir was gebruik word.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'