OUDTSHOORN NUUS - ‘n 27-jarige vrou van Oudtshoorn het Dinsdag, 2 Januarie, uit ‘n polisievangwa geval en as gevolg van haar beserings is sy oorlede. Haar familie is tans getraumatiseer en gelaat met vele vrae.
Ashrodeen “Essie” Armstrong was volgens haar familie vroeër die dag by die Kango-bergoord saam met haar kêrel waarna sy terug huistoe is. Haar familie is nie seker hoekom sy en haar kêrel altwee in hegtenis geneem is nie.
Hulle weet ook nie hoe dit gebeur het dat sy uit die vangwa geval het nie. Armstrong is volgens haar familie in die hospitaal oorlede ure nadat sy uit die vangwa geval het.
Volgens sers Chris Spies, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, is 'n dossier van strafbare manslag oopgemaak na Armstrong se afsterwe in die hospitaal omstreeks 08:00 die oggend.
“Die omstandighede rondom haar dood vorm deel van 'n voortgesette ondersoek. Neem ook kennis dat die aangeleentheid na die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (OPOD) oorgeplaas is vir verdere ondersoek. OPOD is dus die beste geplaas om verdere inligting met betrekking tot hierdie aangeleentheid te verskaf,” het Spies gesê.
Donovan Armstrong, die oorledene se pa, het gesê dat sy dogter die lewe in die huis was. “Sy was die sonskyn in die huis. Sy was ons blom,” het hy gesê.
Deur sy trane het hy vertel hoe spesiaal sy dogter was. “Ons weet self nie hoekom sy in hegtenis geneem is nie. Soos wat ek die prentjie kry was hulle klaar by die huis en iets het gebeur dat die polisie ontbied is,” het hy vertel.
Die bedroefde pa is glad nie seker wat gebeur het nie, en hoekom sy dogter uit die vangwa geval het nie.
“Mens is nie bewus van wat alles gebeur het nie. Veral wanneer ek alleen is vind ek so leemte op my bors. Ek is seer. Ek was baie erg oor my dogter – sy was my enigste meisiekind.”
Volgens Donovan was sy dogter 'n baie opregte mens. “Sy het dinge reguit gesê vir mense. Sy was 'n opgewekte mens. Dit is hoekom mense van haar gehou het. Sy het 'n baie goeie sin vir humor gehad. Sy was my kind, nooit onbeskof nie, en wou almal help.”
Donovan vertel met heimwee hoe sy dogter die dag voor sy oorlede is vir al haar bure sonneblomme gegee het. Sy was baie erg oor hom en haar twee broers.
“’n Kind bly maar net 'n kind vir 'n ouer.”
Daar sal volgende Woensdag, 10 Januarie, 'n kranslegging vir haar gehou word by haar ouerhuis in Bonteboklaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’