Update
OUDTSHOORN NUUS - Terwyl die wêreld angstig vir die koronavirus probeer wegkruip, moet die normale onderhoud en dienslewering van die munisipaliteit voortgaan.
Een van die dienste wat ononderbroke aangaan is die verwydering van huisafval. Dié diens is egter Woensdagoggend in 'n gedeelte van Wesbank onderbreek toe 'n vullistrok die slagoffer van 'n gebarste waterpyp was.
Die vragmotor was Woensdagoggend besig met die verwydering van vullis in Jan van Riebeeckweg toe dit skielik in die pad wegsak.
'n Waterpyp wat onder die grond begin lek het, het vermoedelik oornag gebars en die grond onder die teeroppervlak in 'n modderpappery omskep. Die vragmotor se dubbelwiele regs agter het tot by die bakwerk van die vragmotor weggesak.
'n Herwinningsvoertuig is ingespan om die vragmotor met kabels uit die moddersloot wat gevorm is, te lig. Daar was geen sigbare skade aan die vragmotor nie.
Volgens 'n inwoner het hy Dinsdagmiddag water deur die teer sien sypel en dit by die munisipaliteit aangemeld. Tydens 'n soortgelyke voorval, verlede jaar het 'n vullistrok ook in Jan van Riebeeckweg vasgeval.
Dit is bekend dat waterpype in Oudtshoorn reeds baie oud is en dat die vervanging daarvan miljoene rande sal beloop.
Die gestrande vragmotor in Jan van Riebeeckweg nadat die padoppervlak meegegee het. Foto: Hannes Visser
Lees 'n vorige artikel: Vullistrok slagoffer van pad
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'