PRINS ALBERT NUUS - Meer as eenduisend bale en tweehonderd ton veevoer is die afgelope naweek na Prins Albert uit die Overberg aangery om sukkelende boere in die droogtegeteisterde Groot-Karoo te help.
Ná onderhandeling deur die Prins Albert-landbougenootskap, onder voorsitterskap van Madri Rossouw, en Samie Luttig jr. het 35 boere van die Riviersonderend- en Klipdale-omgewing Saterdag 105 klein lusernbale, 200 hawerhooibale, 24 ronde bale garsstrooi, 405 blokbale gars en 390 blokbale koring, asook 210 ton sakke veevoer met 26 reusevragmotors na Prins Albert aangery.
Hulle is vergesel van hul predikant, ds. Johan Orsmond van die NG kerk Riviersonderend. Ds. Johan Botes van Prins Albert en talle boere van die omgewing, hul gesinne en plaaswerkers het die vragmotors ingewag.
In sy bedankingstoespraak het Joseph Steyn van Prins Albert gesê: "'n Mens se gemoed skiet vol as jy sien hoe medeboere 'n deel van hul vermoë aan ons afstaan. Ek kan ek nie glo dat ander mense dít vir ons gemeenskap doen nie. Prins Albert kry weens die droogte op verskillende vlakke swaar."
Die afgelope twee maande het die omgewing byna geen reën ontvang nie en volgens dr. Sue Milton-Dean, 'n plantekoloog van Renu-Karoo hier, wat op veldherstel fokus, het dit in Desember net 7,3 mm en in Januarie net 2,02 mm gereën. In Februarie het daar ook nog geen druppel geval nie. Die vorige goeie reën in die gebied was in November, toe sowat 35 mm geval het. Prins Albert se gemiddelde jaarlikse reënval is tussen 150 en 176 mm, maar die afgelope jare is tot 100 mm minder per jaar gemeet. Februarie en Maart is in nie-droogtetye van die beste reënmaande hier, met Julie tot September die swakste. Ander nabygeleë dorpe wat steeds kwaai onder die droogte gebuk gaan, is Laingsburg, Leeu-Gamka, Merweville en Oudtshoorn. Waterbeperkings is oral ingestel.
Luidens 'n verklaring van Agri-Wes-Kaap gaan droogtehulp in die Sentraal- Karoo voort, ondanks reën wat tot dusver dié somer plek-plek hier geval het.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê danksy die Wes-Kaap se goeie 2020-wintergraanoes is baie skenkings van ruvoer ook ontvang. "Ons voorsien dat droogtehulp aan die Klein- en Sentraal-Karoo nog lank gaan voortduur as daar nie binne die oorblywende paar weke van die somerreënseisoen wye en harde neerslae hier val nie.
Die droogte in die Karoo is nie gebreek nie en Agri Wes-Kaap is dankbaar vir elkeen wat steeds tot ons Droogtehulpfonds bydra."
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'