Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat onlangs 'n vervalle huis in Oostelikeweg gekoop het, was verstom toe hy Maandag by die huis kom en sien iemand het die gebou begin opknap.
Volgens die man het die huis vir jare leeggestaan omdat die persoon by wie hy dit gekoop het nie finansieel in staat was om die plek in stand te hou nie. Hy sê die huis se vensters was op 'n stadium met houtpanele bedek, maar rondlopers het gereeld toegang tot die gebou gekry en dit verniel.
Hy het reeds planne om die huis te verander en volgens hom het 'n argitek aanbeveel dat die huis se voorste muur vervang moet word omdat dit erg gekraak is.
"Toe ek en my vriendin Maandag by die huis stop, het ek gesien iemand het al die krake toegepleister en ook ander herstelwerk aan die huis begin doen," het hy Dinsdag gesê.
Hy het met die bure gepraat en volgens hulle het 'n vrou met werkers sowat twee weke gelede begin om die huis te herstel. Sy het glo vir bure gesê die huis is verlate en word deur tikkoppe gebruik en daarom gaan sy dit regmaak en self daar bly. Die man het die vrou en nog twee mans Dinsdag by die huis aangetref en die polisie ontbied.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant het die eienaar van die huis die vrou gekonfronteer en gevra wie toestemming verleen het dat sy die huis kan herstel en betrek. Sy het erken dat niemand toestemming verleen het nie, maar dat dit alombekend is dat die huis reeds vir jare leegstaan en gereeld deur rondlopers gebruik word as slaapplek en om dwelms te gebruik.
Die vrou het Woensdag telefonies bevestig dat sy nie 'n huis van haar eie het nie en gedink het sy kan 'n huis wat as broeiplek vir misdaad dien, opknap en self daar woon. Sy wou nie sê hoeveel sy reeds aan die werk spandeer het nie.
Die eienaar van die huis het gesê hy is nou genoodsaak om sy planne om die huis op te knap aan te pas aangesien sy prioriteit nou is om 'n betonmuur en 'n hek voor die huis op te rig.
"Ek wil nie 'n herhaling van so 'n voorval hê nie," het hy gesê.
'n Navraag is Woensdag aan die munisi-paliteit gestuur rakende die munisipaliteit se beleid met betrekking tot huise wat leegstaan en waaroor klagtes van ongerymdhede ontvang word. Die navraag is deur die woordvoerder aan die departement van menslike nedersettings vir kommentaar gestuur.
Daar word nog gewag op 'n antwoord.
Lees 'n vorige artikel: Eienaar byna leë huis kwyt
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'