OUDTSHOORN NUUS - Die eienaar van ‘n leë huis in Oostelikeweg het vandag ‘n groot verrrassing gekry toe hy besef iemand is besig om die vervalle huis te herstel om self daar te gaan woon.
Volgens die man het hy onlangs die huis by ‘n vriendin gekoop wat die huis sedert 2011 besit.
Hy het reeds die agterstallige dienstegeld by die munisipaliteit betaal en begin om die huis binne te herstel.
Hy en die vorige eienaar, het gister gesien iemand werk aan die huis en hulle het ‘n vrou en twee mans vanoggend by die huis aangetref. Die vrou het gesê die huis staan reeds jare leeg en word deur tikkoppe gebruik en sy het toe besluit om die huis vir haarself reg te maak.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant was die polisie ook op die toneel en sy het erken sy het geen toestemming gekry om die huis op te knap en oor te neem nie.
Sy het ook beweer dat sy nie geweet het wie die eienaar is nie. Kort daarna het sy en die twee mans weggery.
Alhoewel sy aanvanklik aangedui het dat sy met die media sal praat, het sy van plan verander en wou ook nie haar kontaknommer verskaf nie. ‘n Nommer wat deur bure aan die eienaar gegee is, het nie gewerk nie.
Volgens bure blyk dit dat daar reeds vir twee of drie weke aan die huis gewerk word.
‘n Polisievoertuig voor die huis nadat ‘n klag van betreding gelê is.
Die eienaar van die huis het vanoggend gesê hy het reeds gereël dat ‘n heining voor die huis aangebring word.
“Dit gooi my beplanning nou omver, want ek moet nou geld wat ek vir bouwerk wou gebruik het, gebruik om ‘n betonmuur voor die huis op te rig om te keer dat iemand anders dit in sy kop kry om sommer my huis te kom oorvat.”
Volgens hom was ‘n munisipale amptenaar en twee raadslede ook gister by die huis.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'