Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit gaan voort met die verskuiwing en die bou van 'n nuwe diereskut suid van Dassieweg in Bridgton, ten spyte van protesaksies deur inwoners van die omgewing.
Inwoners het verlede maand betoog teen die bou van die nuwe skut in Dassieweg omdat hulle voel die skut hou gesondheidsrisko's vir inwoners in.
Volgens Randall Rossouw, wat hom aan 'n hek by die ingang van die nuwe perseel vasgeketting het, is die inwoners van die omgewing ongelukkig omdat daar nie met hulle gekonsulteer is nie.
"Die skut is ook te na aan die woonbuurt. Ons gaan 'n versoekskrif aan die munisipaliteit oorhandig waarin ons ons klagtes verwoord."
Volgens 'n onlangse verklaring van die munisipaliteit op reaksie van navrae oor die betoging is die verskuiwing van die huidige skut langs die Rooiheuwel-pad reeds in 2018 deur die raad goedgekeur nadat daar met werkers en hul unies gekonsulteer is.
Volgens die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, het die munisipaliteit 'n bedrag van R2,5 miljoen bewillig vir die eerste fase van die bouwerk.
"Sodra verdere geld beskikbaar is sal die res van die geboue opgerig word. Die maatskappy, Southern Ambitions, is behoorlik volgens die munisipale voorsieningskettingproses aangestel."
Mangqwengqwe het verder gesê volgens wet is dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid om die diereskut te bedryf en bestuur.
Die ligging van die huidige skut naby die rioolwerke, is volgens die munisipaliteit ongeskik en moet om veiligheids-, gesondheids- en operasionele redes verskuif word.
Tenders sal ook binnekort gevra word vir die tweede fase wat die bou van nog nuwe skuilings vir diere behels.
Die munisipale depot is, volgens die verklaring, tans die enigste geskikte munisipale perseel vir 'n nuwe skut.
Die werkers wat daagliks daar byeenkom en dan na hulle onderskeie werksplekke geneem word is, volgens die verklaring, gekonsulteer en hul unies het ook hul ondersteuning gegee om voort te gaan met die verskuiwing.
Die munisipaliteit spreek die hoop uit dat die nuwe skut so gou moontlik in gebruik geneem sal kan word en diereliefhebbers 'n makliker bereikbare fasiliteit sal hê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'