OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Agri het verlede week 'n verskaffersaand gehou waaraan 36 verskaffers deelgeneem het en wat deur 'n rekordtal van 309 produsente bygewoon is.
"Die doel van die verskaffersaand was om Klein Karoo Agri se lojale kliënte en verskaffers bymekaar te bring om inligting uit te ruil sodat die verskaffers kan weet wat ons kliënte se behoefte is," sê Terblanche du Plessis, besturende direkteur van KKA.
"Dit is vir ons belangrik dat ons kliënte 'n vertrouensverhouding met ons verskaffers opbou, want die vennootskap tussen hulle en ons personeel speel 'n baie belangrike rol in KKA se sukses."
Du Plessis het 'n beknopte oorsig oor KKA se groei gegee. Klein Karoo Agri het in 2017 vir die eerste keer as 'n maatskappy op sy eie gefunksioneer.
Verskeie nuwe projekte is aangepak, waaronder die KKA Lojaliteitsprogram, 'n nuwe Caltex-vulstasie op Oudtshoorn en 'n nuwe Mica-tak binne die Oudtshoorn handelstak.
Projekte vir 2018 sluit vulstasies op Beaufort-Wes en De Rust in, asook nog 'n Mica-tak op Ladismith.
Produsente het geleentheid gekry om 36 verskaffers se uitstallings in die voerstoor te besoek. Die aand is afgesluit met 'n gesellige spitbraai.
"Die verskaffers en kliënte was baie positief oor die geleentheid," sê Du Plessis. "Die Verskaffersaand is 'n droom wat waar geword het en ons beplan die volgende een vir September volgende jaar."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'