OUDTSHOORN NUUS - Hy was 'n toegewyde soldaat en 'n persoon wat altyd behulpsaam was.
So is stafsersant Preston Titus (47) wat die afgelope naweek wreed in sy huis op die Oudtshoorn-weermagbasis vermoor is, Woensdagoggend tydens 'n gedenkdiens in huldeblyke deur kollegas en vriende beskryf.
Honderde soldate, gemeenskapslede en familie van Titus, asook die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, en talle raadslede, het die SANW-ouditorium volgepak tydens die gedenkdiens wat die Infanterieskool vir Titus gehou het.
Sy familie het spesiaal vir die diens vanaf Worcester gekom.
Familielede van die bedroefde weduwee van Titus, Magdaleen, 'n ANC-raadslid, het haar voortdurend ondersteun.
"Stafsersant Titus se dood het vir ons almal as 'n baie groot skok gekom. Maar ons is vandag hier om sy lewe te vier.
"Hy was 'n nederige en behulpsame man," het die waarnemende bevelvoerder van die Infanterieskool, lieutenant kolonel Moiketsi, in sy huldeblyk gesê en namens die bevelvoerder, kolonel Nkuba Nthejane wat ongelukkig in Pretoria is, namens die SANW meegevoel betuig.
Ander kollegas van Titus het in hul huldeblyke Titus as 'n broer en toegewyde soldaat beskryf.
Kapelaan Stuurman het die familie na aanleiding van Jeremiah 31:13 vertroos wat lui, "en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer".
"Julle droefheid, pyn en verlies is ook ons s'n," het hy gesê.
Titus se lyk is vroeg verlede Saterdagoggend deur familielede in sy bed aangetref.
Daar was volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, veelvuldige steekwonde aan sy rug en ken en volgens 'n voorlopige ondersoek is geen tekens van gedwonge toegang tot die woning opgemerk nie.
Reynold Titus van Worcester, broer van die oorledene, het die SANW en almal teen woordig namens die familie vir hul ondersteuning bedank.
"Dit is duidelik dat my broer 'n groot impak gemaak het op almal met wat hy in aanraking gekom het."
Titus word Saterdag om 11 uur vanuit die Maranatha Kerk op Worcester begrawe. Die huisdiens te Africastraat 121, begin om 10:00.
Teen saktyd gister is twee mense in verband met die moord in hegtenis geneem en 'n derde is vir ondervraging ingeneem. Sien voorbladberig.
Lees verwante artikels:
- 2 in Hegtenis vir moord
- Man en vrou gearresteer in Titus-moord
- ANC-Raadslid tans nie in hegtenis
- Geen arrestasie na moord
- Eggenoot van raadslid sterf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'