Update
OUDTSHOORN NUUS - Een persoon is in hegtenis geneem ná 'n aanval op 'n personeellid van die People's Dispensary for Sick Animals (PDSA) op Oudtshoorn verlede week.
Moira Gibbs, die bestuurder van PDSA wat in Conville, George gebaseer is, sê hulle lewer al die afgelope ses jaar bekostigbare dienste aan siek diere op Oudtshoorn.
Op Dinsdag 11 Junie is 'n vroulike personeellid, wat elke Dinsdag met die mobiele kliniek in Dassieweg, Bridgton gaan staan, beroof en met 'n stuk glas gedreig.
Volgens Gibbs was die vrou in die mobiele kliniek besig toe 'n man haar nader.
"Hy het gesê hy soek 'n inspuiting vir sy hond en sy het gesê dit kos R60. Hy het R40 uit sy sak gehaal en 'n glas het uit sy sak geval en gebreek. Die lid het gevra dat die man gou moet uitstap dat sy kan skoonmaak en hy het die gebreekte glas opgetel en wou haar steek. Twee ander mans het toe ook in die kliniek ingeklim," sê Gibbs.
Volgens Gibbs het die vrou probeer weghardloop, maar een van die mans het haar gejaag en sy het geval. Sy is van haar selfoon beroof. Die ander twee mans het die kliniek van R600 beroof waarna hulle te voet gevlug het.
Na die voorval was dit onduidelik of die PDSA sou aanhou om die Oudtshoorn-gemeenskap te bedien, maar Gibbs sê die personeellid was Dinsdag weer op haar pos in Bridgton.
"Sy het weer hierdie week Oudtshoorn toe gegaan, maar sy staan nie meer in Dassieweg waar die voorval plaasgevind het nie. Sy word nou deur een van ons manlike personeellede vergesel. Die polisie het ook 'n spasie naby die Bridgton-polisiestasie aangebied," sê Gibbs.
Die verdagte sou in alle waarskynlikheid gister of vandag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'